Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) het Sondag bekend gemaak dat die Panacea-seiljag met die oorskot van die 60-jarige man aan boord gesink het, terwyl hulle besig was om dit na die Mosselbaai se hawe te sleep.
Dit volg ná 'n uitgebreide soek-en reddingsoperasie deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa), die NSRI en die Suid-Afrikaanse Lugmag, na die seiljag en die seiljagvaarder, sedert laas week.
Die seiljag met die man se liggaam aan boord, is Saterdag deur die NSRI se reddingspan gevind. Reëlings is getref om die seiljag na Stilbaai te sleep waar provinsiale forensiese patologiedienste op die seiljag sou klim en die liggaam van die man sou verwyder.
Volgens die NSRI is daar bevind dat die seiljag skade opgedoen het weens die gure weerstoestande. Nadat weersomstandighede verder versleg het, het hulle Sondag 'n sleeplyn gevestig en die seiljag na Mosselbaai begin sleep. Die seiljag het water ingekry en sowat 20 km van Mosselbaai gesink.
Die Suid-Afrikaanse Polisie en sy duikeenheid ondersoek die moontlikheid om die man se lyk van die gesinkte seiljag te kry.
Die seiljagvaarder het op 12 Augustus alleen van Kaapstad na Mosselbaai vertrek, nadat hy waarskuwings verontagsaam het dat die seiljag nie seevaardig is nie.
Sy familie het die owerhede genader toe hy teen Maandag nie sy bestemming bereik het nie, en hulle niks van hom gehoor het nie.
Foto's: Kobus de Beer, Facebook
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'