MOSSELBAAI NUUS - Die leerlinge van die 2024-matriekklas van Hoërskool Sao Bras, kon nie wag om die bruin koeverte waarop hul name geskryf was, oop te maak nie.
Net na 10:00 vanoggend, 14 Januarie, het die leerders uiteindelik hul langverwagte uitslae ontvang.
Met ouers, familie en vriende, wat ook die verrigtinge bygewoon het, het die skoolsaal gou in 'n miernes van bedrywighede verander en is gevul met 'n gejuig en drukkies, wat uitgedeel is.
Daar was egter ook trane, maar Hoërskool Sao Bras het 'n slaagsyfer van 89.3% behaal.
Sao Bras se top leerder
Om deur graad 12 te kom en matriek te slaag, is geen geringe prestasie nie. Om boonop goed te doen is 'n verwagting, maar om met vier onderskeidings weg te stap van jou hoërskoolloopbaan, is iets wat nie almal beskore is nie.
Vir Gia Koeries is dit egter haar werklikheid.
Dié top leerder het onderskeidings in Lewensoriëntering, Afrikaans, Ekonomie en Engels behaal.
Koeries sê sonder die motivering van haar onderwysers, sou haar uitslae nie so goed gewees het nie. "Ek het ook fantastiese vriende wat my altyd ondersteun het. En natuurlik sou alles onmoontlik gewees sonder God."
Gia Koeries en Theno Koert, graad 12 graadhof van Hoërskool Sao Bras. Foto: Gabriélla Siebritz
Sy wil graag vanjaar by die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) haar studies in die regte wil navolg.
Moeilike Omstandighede
Isaac Laminie is van 'n plaas op Ruiterbos buite Mosselbaai en was in die koshuis.
Om matriek te kan slaag, is vir hom 'n bewys dat mense van die omgewing waar hy woon, ook groot dinge kan bereik.
"Ek wil vir almal wys dat dit moontlik is om goed te doen, selfs al is jy van 'n plaas en leef onder moeilike omstandighede," het hy gesê.
Isaac se ma, Susan Laminie, sê haar hart is gevul met trots vir haar seun se prestasie, maar voel ook verlig dat dié stresvolle tyd nou verby is.
Emosioneel
Vir nog 'n ma was dit 'n emosionele oomblik. Jujinia Le Grange is 'n enkelouer vir haar dogter, Jenay Le Grange, sedert 2020 toe Jenay met graad agt begin het.
Om te sien hoe haar kind die mylpaal bereik, is 'n trotse, maar dit het ook groot verligting meegbring.
"Al ons harde werk het wat vrugte afgewerp. Ek is so trots op haar," het Jujinia met trane in haar oë gesê.
Jujinia Le Grange staan trots met haar dogter se uitslae in haar hande. Foto: Gabriélla SiebritzDie toekoms lyk blink
Baie van Sao Bras se matriekulante het planne om verder te studeer.
Universiteit Stellenbosch (US), Nelson Mandela Universiteit (NMU), Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT), asook Suid-Kaap Kollege kan binnekort 'n paar studente van Mosselbaai verwag.
Vir van die ander vars gesigte, wat na die buitewêreld op pad is, word daar nog asem opgehou oor wat die toekoms inhou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’