Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Bredasdorp-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord ná ’n matriekleerder van Hoërskool Punt gistermiddag, 8 Augustus, met ’n skerp voorwerp gesteek is.
Die leerder het vir Hoërskool Punt se tweede rugbyspan uitgedraf in 'n wedstryd teen Hoërskool Bredasdorp. Die slagoffer was glo op pad om op ’n bus terug na Mosselbaai te klim toe ’n woordewisseling met ’n ander leerder ontstaan het. Hy is daarna met ’n mes gesteek ten aanskoue van verskeie ander leerders.
Die Mossel Bay Advertiser het vroeër berig dat die polisie vinnig opgetree en ’n minderjarige vir ondervraging in verband met die voorval aangehou het. ’n Polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, konstabel Ndakhe Gwala, het egter gesê dat geen arrestasies op hierdie stadium gemaak is nie en dat die omstandighede rondom die voorval steeds ondersoek word.
Die Advertiser het ook vroeër berig dat Hoërskool Bredasdorp se skoolhoof, Muller Retief, gesê het dat die verdagte nie ’n leerder van sy skool is nie. Die verdagte is glo aan ’n ander skool verbonde en het gewone klere gedra toe die voorval plaasgevind het.
Albei skoolhoofde het die aanval ten sterkste veroordeel. Hulle het dit as uiters betreurenswaardig beskryf dat so ’n gewelddadige voorval die jaarlikse sportkragmeting tussen die twee skole oorskadu het. Die skole pak mekaar jaarliks in rugby, netbal en hokkie.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het in antwoord op ’n media-navraag van die Advertiser gesê die slagoffer is in ’n stabiele toestand ná die steekvoorval. Die departement het ook verdere besonderhede oor die voorval aangevra.
Vorige artikel: Matriekleerder van Hoërskool Punt gesteek ná sportbyeenkoms op Bredasdorp
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’