Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - ’n Matriekseun van Hoërskool Punt in Mosselbaai is Saterdagmiddag, 8 Augustus, met ’n mes gesteek ná ’n sportbyeenkoms teen Hoërskool Bredasdorp.
Die voorval het ten aanskoue van verskeie ander leerders plaasgevind toe die slagoffer op pad na die busse was. Die seun het vroeër die dag vir Punt se tweede-rugbyspan uitgedraf. Hy was glo in ’n woordewisseling met ’n ander leerder betrokke toe die aanval plaasgevind het.
Die skoolhoof van Hoërskool Punt, Adolf Gouws, het bevestig dat mediese personeel die leerder op die toneel gestabiliseer het. Hy sal na wat verneem word later na ’n hospitaal in Mosselbaai vervoer word vir verdere behandeling. Sy presiese mediese toestand is tans onbekend.
Gouws het egter skoliere en ouers gerusgestel dat Punt-onderwysers by die leerder is en dat hy by sy bewussyn is en met hulle kon praat.
Die polisie het vinnig opgetree en ’n minderjarige verdagte vir ondervraging in hegtenis geneem.
Volgens Retief Muller, skoolhoof van Hoërskool Bredasdorp, is die verdagte nie ’n leerder van sy skool nie. Die verdagte is na bewering aan ’n ander plaaslike skool in Bredasdorp verbonde en het tydens die voorval gewone skoolklere gedra.
Albei skoolhoofde het die aanval ten sterkste veroordeel. Hulle het dit as uiters betreurenswaardig beskryf dat so ’n gewelddadige voorval die jaarlikse sportkragmeting tussen die twee skole moes oorskadu. Die skole pak mekaar jaarliks in rugby, netbal en hokkie.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het bevestig dat ’n Graad 12-leerder van Hoërskool Punt met ’n mes gesteek is en na die hospitaal vervoer is vir behandeling.
Die departement het gesê hy is in ’n stabiele toestand en dat hy verdere besonderhede rakende die voorval versoek het.
Die polisie het nog nie amptelike terugvoer op media-navrae verskaf nie. Hierdie is ’n ontwikkelende storie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’