Update
ALBERTINIA NUUS - Die dokter wat die nadoodse ondersoek op die 52-jarige Sharon Lee Bester voltooi het, het op Woensdag, 5 September in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai getuig dat sy al baie gevalle van wurging hanteer het, maar dat die wurging van Bester die ergste was wat sy nóg in haar beroep gesien het. Bester is in Oktober 2017 op die plaas, Zout van die Aarde in die Albertinia-distrik vermoor. Dokter Christa Hattingh is as die eerste getuie deur die staat geroep. Sy het aan regter NC Erasmus gesê Bester se nek was 'n bebloede massa.
Hoewel daar aanvanklik vermoed is dat Bester aan natuurlike oorsake oorlede is, het Hattingh se nadoodse ondersoek die teendeel bewys.
"Hier was erge geweld ter sprake. Die oorsaak van dood is verwurging in teenwoordigheid van stompgeweld teen die kop."
Pleit onskuldig
Die beskuldigde in die saak, die 21-jarige Johannes Bangiso was 'n werker op Bester se tamatieplaas ten tye van die voorval. Hy het uitdrukkingloos voor hom gestaar terwyl Hattingh getuig het. Bangiso het voor Hattingh se getuienis op die drie aanklagte teen hom onskuldig gepleit. Hy is aangekla van huisbraak met die opset om te steel, roof met verswarende omstandighede en moord.
Hy het wel daarna 'n formele erkenning in die hof gemaak. In die bekentenis sê Bangiso hy het op 27 Oktober 2017 by Bester se woning ingebreek. "Ek het vroeër bier en brandewyn gedrink en was onder die invloed van sterk drank, maar kon tussen reg en verkeerd onderskei."
Bangiso, geklee in 'n grys kappietop, het aan regter Erasmus gesê die huis se ligte het vir 'n paar sekondes afgegaan, waarna hy geskrik het toe hy "iemand" in die gang sien. Hy het erken dat hy Bester toe een vuishou toegedien het waarna sy bewusteloos op die vloer in die gang gelê het.
In sy bekentenis sê Bangiso hy het Bester op haar bed geplaas waarna hy haar met albei hande gewurg het "om haar stil te maak nadat sy geraas het". Daarna het Bangiso Bester se wit Landrover Discovery gevat, asook onder meer 'n skootrekenaar, selfoon, tablet, 'n windbuks en handsakke.
Hy het sy meisie, Elizabeth Davids, wat ook die ma van sy kleuterseun is in Riversdal met die voertuig gaan haal.
Davids is deur adv Christénus van der Vyver as die Staat se tweede getuie geroep. Die hof moes vir 'n paar minute verdaag omdat sy aanvanklik te emosioneel was om te getuig. Davids het later getuig dat Bangiso haar met die Landrover op Riversdal gaan haal het, maar dat hulle sonder diesel gaan staan het.
Terwyl Bangiso diesel gaan soek het, het sy Bangiso se pa gebel om hulle te kom help. Volgens Davids het Bangiso aan haar gesê dat Bester hom toestemming gegee het om met die voertuig te ry.
Bangiso se pa het op die toneel aangekom en diesel in die voertuig gegooi waarna hulle almal saam verder in die rigting van die plaas gery het. Bangiso het aan haar gesê dat Bester hom gevra het om die voertuig naby "bosse" te los. Sy het getuig dat Bangiso van die gesteelde goedere tussen die bosse gegooi het en sommige van die items gevat het en aan haar gesê het dat hy dit vir Bester moet vat.
Davids beweer Bangiso het niks oor Bester se dood gesê nie.
Sharon Lee Bester
Seun getuig
Bester se seun, Wian het na Davids vir die staat getuig. Hy sê dit het hom langer as 'n jaar geneem om die gebeure te verwerk.
Die verdediging het aan Wian gesê dat die beskuldigde die familie om verskoning wil vra en berou het oor wat hy gedoen het.
Op 'n vraag of Wian dit sal aanvaar het hy 'n ruk na Bangiso gestaar en gesê hy sal dit aanvaar wanneer dit persoonlik van Bangiso afkom, maar dat hy steeds nie verstaan hoekom Bangiso sy ma vermoor het nie.
Lees vorige artikels:
- Plaaswerker skuldig aan moord
- Uitspraak in boervrou-moord
- Opspraakwekkende moordverhoor skop af
- Boervrou vermoor: Verdagte in hof
- Opvolg: Albertinia-Boervrou vermoor
- Albertinia: Boervrou vermoor
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Tuinorete nuus'