MOSSELBAAI NUUS - Die verhoor van die 21-jarige Johannes Bangiso het op Maandag, 3 September in die rondgaande hooggeregshof op Mosselbaai begin.
Bangiso is in hegtenis geneem en word aangekla van die moord op boervrou Sharon Lee Bester (52).
Bester is op Saterdag, 28 Oktober 2017 dood in haar huis op die plaas Zout van die Aarde in die Albertinia-distrik gevind.
Daar is oorspronklik vermoed dat sy 'n beroerte gehad het, maar 'n nadoodse ondersoek op 1 November 2017 het bevestig dat sy verwurg is. Bangiso was 'n werknemer op die plaas. Bester se lyk is deur ‘n plaaswerker wat die honde moes kos gee gevind.
Paramedici wat op die toneel was het aanvanklik vermoed dat Bester 'n beroerte gehad het. Die plaasbestuurder het egter die volgende dag opgemerk dat Bester se voertuig, ‘n wit Land Rover, weg is. Lede van die publiek het die Land Rover naby Dekriet opgemerk en het die verdagte, wat op Bester se plaas gewerk het, herken. Die polisie is in kennis gestel.
Die polisie het na Bangiso se familie gegaan waarna sy pa glo gesê het dat sy seun hom laat weet het dat die voertuig sonder diesel gaan staan het en dat hy diesel vir hom ingegooi het. Bangiso se meisie het na bewering aan die polisie bevestig dat hy haar met die Land Rover gaan haal het. Die voertuig is later ‘n entjie van die plaasopstal af gevind.
Bangiso is op die plaas gearresteer en het van die gesteelde eiendom wat hy by hom gehad het, oorhandig. Hy het glo sleutels van voertuig die vorige dag weer in die huis gaan terugsit. Hy het na bewering 'n bekentenis gemaak dat Bester hom in die huis betrap het toe hy geld gesoek het om diesel in te gooi, waarop hy haar verwurg het.
Bangiso word aangekla van moord, huisbraak en diefstal, asook motordiefstal. Die verhoor duur tot 14 September.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'