Update
MOSSELBAAI NUUS - Pastoor Johan van Eeden (50), leraar aan die Pinkster Protestante Kerk in Heiderand, wat op 1 Julie sy intreepreek in die gemeente gelewer het, is die naweek buitekant sy huis in De Bakke, doodgeskiet.
Van Eeden het volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie omstreeks 00:41 'n stoornis buitekant die huis in Tornynstraat gehoor en ondersoek gaan instel. Hy het sy .38-rewolwer by hom gehad. 'n Skoot is afgevuur waarna Van Eeden die huis binnegegaan het. Hy het sy 17-jarige seun, Duan, 'n graad 11-leerder aan Hoërskool Punt wakker gemaak en aan hom gesê dat hy geskiet is. Van Eeden het glo by die voordeur beswyk. Sy vuurwapen word van die toneel vermis.
Duan, het om 03:43 Saterdagoggend met 'n facebook-inskrywing op sy pa se persoonlike facebookblad van sy pa se dood vertel, asook voorbidding gevra.
Van Eeden se vrou, Vicky was volgens inligting ten tye van die voorval nie by die huis nie, maar steeds in hulle vorige tuisdorp, Mokopane (Potgietersrus), besig om die gesin se sake daar af te handel. Sy het Saterdagoggend kort na 08:00 oor haar man se dood berig op die facebook-blad, Mosselbaai op sy BESTE!
Van Eeden is vermoedelik Saterdagoggend deur 'n misdadiger op die toneel oorrompel. Dit word berig dat sedert die gesin slegs drie weke gelede in Mosselbaai hervestig het, daar reeds een keer by Van Eeden se voertuig ingebreek is.
Videomateriaal verkry van 'n aangrensende huis, toon baie vaag dat daar een persoon op die misdaadtoneel was. 'n Getuie het die noodlottige skoot hoor afgaan en na bewering 'n persoon van die misdaadtoneel sien weghardloop.
Die gemeenskap en veral die Pinkster Protestante Kerk in Heiderand is geruk deur die dood van past Johan van Eeden wat op 1 Julie sy intreepreek as nuwe leraar by die gemeente gelewer het. Foto: Cornelle Carstens
Medelye het van oraloor ingestroom op Van Eeden se facebookblad in reaksie op sy dood. 'n Inwoner van Mosselbaai skryf: "Liewe Duan..... ek is self 'n inwoner hier. Ek ken julle nie, maar het nou hierdie skokkende nuus gelees in die Advertiser (facebookblad van die Mossel Bay Advertiser). Jou inskrywing op FB op pappa se blad gelees.... ons bid vir julle. Ons dra jul op aan ons Vader. Sterkte my liewe kind. Kyk mooi na jou mamma."
'n Moorddossier is geopen deur die Da Gamaskop-polisie en die saak word ondersoek deur ao Richard van Eyck van die polisiestasie se speurafdeling.
Teen druktyd het die Da Gamaskop-polisie bevestig dat nog geen arrestasies in verband met die voorval gemaak is nie.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'