MOSSELBAAI NUUS - 'n Mosselbaaise ma van drie se inskrywing op sosiale media aangaande die hulpvaardigheid van 'n parkeringassistent by 'n winkelsentrum, het tot 'n verfrissende ontmoeting gelei met 'n besonderse 25-jarige jongman.
Sy naam is Nielen Britz. "Britz met 'n 'z'," sê hy by voorbaat. Nielen is oorspronklik van die Langkloof, "Uniondale se wêreld" verduidelik hy en hy werk die afgelope 10 maande by die Mosselbaai Mall.
Ongeveer twee weke gelede het hy Janita Coetser bygestaan ten tye 'n inkopietog met haar kinders, 12, vier en nege maande oud.
"Nielen by Mosselbaai Mall het vandag 'n groot glimlag op my gesig gesit. Nie net het hy my gehelp met my kar om te parkeer nie, maar ook om my baba in haar drasak vas te maak. Dankie dat jy so bereidwillig is om te help. Mense soos jy is wat 'n verskil maak." Dít was Janita se inskrywing op die facebookblad, Mosselbaai op sy BESTE!
Sy het in die week by navraag aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik dat sy op die bepaalde dag met die gesin se minibus gery het. "Ek bestuur amper nooit die bus nie en kan nie daarmee parkeer nie. Ek het al in die rondte gery by die mall op soek na plek. Ek dink hy't gesien hoe ek sukkel en rêrig so mooi gehelp."
Toe sy uiteindelik geparkeer kom, het Janita gesukkel met haar jongste, waarna Nielen verder van hulp was.
Werk met 'n geruste hart
Nielen glimlag as hy hoor daar is op facebook oor hom geskryf. "Die mevrou het nogal gesê sy gaan ietsie op die facebook skryf.
"Hy het eers elders in die Mosselbaai Mall gewerk, vertel hy, maar altyd gehou van wat hy sien as die parkeerassistente hulle werk doen. Daarom het hy by die sentrumbestuur aangemeld vir diens. Daar was nie dadelik vir hom plek nie, maar hy was verheug toe hy net voor die seisoen, einde November 2017 'n geleentheid kry om te wys wat in hom steek. Nielen sê, emosioneel, is elke dag 'n uitdaging, maar hy gebruik sy inisatief om sy werk tot die beste van sy vermoë te doen. Sy resep vir klaarkom met 'n knorrige kliënt?
"Jy moenie op tone trap nie. Hanteer mense altyd met respek en beskaafd."
Hy sê om moeilike mense te wen is nie 'n proses wat oornag plaasvind nie. "Party mense is nie 'n pot sop om mee te werk nie. Sommige kies die high way nie die merry way nie." Afbrekende woorde en verkleinerende opmerkings maak seer, sê hy. "Ons wil menswaardig behandel word."
Nielen sê hy dra die kaartjie wat 'n kliënt vir hom gegee het elke dag in sy baadjiesak teen sy hart.
Maar voeg hy vinnig by hy het sy "regular customers" en dit is elke keer 'n blye weersiens. Hy wys 'n kaartjie met 'n Christelike boodskap wat hy in sy hempsak dra. "Hierdie woorde versterk my elke dag dat ek met 'n geruste hart kan kom werk." Hy weet hy dien God ook in sy werksplek.
En die lank op sy voete wees elke dag? "Nee wat mevrou, op hierdie ouderdom kan ek nie kla van pyne en kwale nie. Ek is net bly ek het 'n werk wat ek met trots kan doen."
Janita Coetser en klein Carmen was baie dankbaar teenoor Nielen vir sy hulp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'