MOSSELBAAI NUUS - Drie kleuters het die afgelope maand in hul huise doodgebrand.
In die laaste ses weke het ses mense, die kinders ingesluit, in die groter Mosselbaai weens brande beswyk.
Dieselfde 13 brandbestryders van die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste se C-skof het op elk van hierdie voorvalle reageer en moes die trauma van hierdie voorvalle ook beleef.
"Dis 'n roeping, nie 'n keuse nie om hierdie werk te doen," sê die stasiebevelvoerder - operasioneel, Ann Supra-Vertue.
"Ons is 'n hegte familie."
Sy vertel dat die personeel-omset baie laag is juis omdat die brandbestryders besonder toegewyd is en in spanverband werk.
Beskikbare statistiek vertel 'n storie van die brandbestryders se toewyding, opoffering en onverskrokke werkstrots.
Tydens September en Oktober is 18 brande by wonings in die omgewing geblus, 42 veldbrande hanteer, en het brandbestryders in die groter Mosselbaai reageer en hulp verleen by meer as 50 motorongelukke, waarvan sommige ook met lewensverliese gepaard gegaan het.
November se statistiek was teen druktyd nog nie beskikbaar nie.
Opleiding
Die personeel ondergaan gereelde, strawwe en deurlopende fisieke opleiding om hulle toe te rus vir die lewensgevaarlike werk wat hulle verrig.
Geen opleiding kan hulle egter emosioneel onderskraag of voorberei vir die trauma waaraan hulle feitlik daagliks onderwerp word nie.
Weinig beroepe vereis van personeel om daagliks die dood in die oë te kyk.
"Om 'n kind se liggaampie uit die puin te verwyder, om met 'n pasiënt te werk en te beleef hoe die lewe uit daardie liggaam syfer; 'n mens verlaat nie so 'n toneel onaangeraak nie."
"Mosselbaai-munisipaliteit beplan om bykomend tot bestaande werknemerwelstandsprogramme, die werklikheid van posttraumatiese stres by brandbestryders die hoof te bied deur gereelde, verpligte ontlontingsessies te implementeer.
Sover bekend, sal Mosselbaai met hierdie program een van die eerste munisipaliteite in die land wees waar posttraumatiese stres doelmatig bestuur word," aldus die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel.
Die brandbestryders verbonde aan C-skof het al die voorvalle waarin ses mense, onder meer drie kinders die afgelope ses weke weens brande omgekom het, hanteer. Hulle is helde, een en elk. By hulle is Ann Supra-Vertue, die stasiebevelvoerder - operasioneel van die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste, tweede van links.
Trauma
"Veral sedert ek kinders van my eie het, is die trauma soveel erger wanneer kinderslagoffers hanteer moet word.
"Die eerste sterfgeval, die kindersterftes, die kere wat jy besef het die situasie voor hande is gevaarliker as enige ander en dat beide jou eie en die span se lewens op die spel is; daardie gevalle bly jou by."
Brandbestryders vertel dat stres nie tot hul werk beperk is nie.
"Wanneer ek 24-uur aan diens is of nagdiens doen, bekommer ek my oor my familie, my kinders. Is hulle veilig, het hulle onthou om die alarm te stel?"
Selfs wanneer hulle by die stasie oorslaap moet brandbestryders "wakker"-slaap, altyddeur gereed wees vir enige gebeurlikheid. Slaappatrone is versteur, ook wanneer hulle tuis is.
"Geen mens kan gekompartementaliseerd leef nie. By die werk geld protokol, regulasies, lewens hang af van die besluite wat jy neem, 'n mens oorleef meestal op adrenalien.
"Tuis wil jy net tot verhaal kom, maar dan wag sleurtake, ander prioriteite moet aandag kry. Dis moeilik om net af te skakel."
Een van die grootste vrese vir brandbestryders is om na 'n toneel uitgeroep te word waar familie of vriende betrokke is.
"Dis moeilik wanneer 'n mens net die werk wil doen, maar van die mense op die toneel is aggressief of emosioneel. Ons is opgelei om kalm te bly, slagoffers te kalmeer, om beheer te neem van situasies.
Wanneer mense dit moeilik maak op 'n toneel om slagoffers te help of om selfs net by die brand uit te kom, dis frustrerend."
Erkenning
"Ons doen nie hierdie werk om medaljes of sertifikate te ontvang nie. Al wat ons vra is ondersteuning, begrip en erkenning vir die werk wat ons doen en die opofferings wat die werk van ons verg."
Het jy al ooit op pad werk toe gedink of en hoe jy by jou werk sal sterf?
Lees verwante artikels:
- Seun brand dood in Ruiterbos
- Opvolg: Vrou en kind brand dood
- Vroegoggend brand verwoes huis
- Brand woed steeds
ARTIKEL & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'