TUINROETE | KAROO | HESSEQUA NUUS - Die koms van Covid-19 het alles wat voorheen aan ons bekend was, omgekeer. Selfs om te sterf.
Nog voordat die virus tot die nasionale inperking in Suid-Afrika gelei het, was hartroerende beeldmateriaal van pasiënte elders wat aan terminale siektes soos kanker ly en wat nie deur hulle families besoek kon word nie, gereeld in die nuus.
Rogeline Bretteny van die @Peace-sorgsentrum in Mosselbaai waar onder meer palliatiewe sorg gebied word, sê dat hulle besoektyd wat daagliks tot 20:00 was, summier beëindig moes word tydens die grendeltydperk. "Voorheen sou ons selfs 'n uitsondering maak vir heelnagbesoeke, indien 'n pasiënte op hulle einde was. Maar tydens die grendeltyd, moes families pakkies by die hekkie afgee of bel."
Hulle kon slegs 'n beperkte hoeveelheid pasiënte hanteer en geen opnames kon gedoen word nie.
Rogeline sê dat hulle families vra om op 'n gereelde basis te skakel en met die pasiënte te gesels. "Die afwesigheid van familiebesoeke maak die verlange erger. Dit maak pasiënte moeilik en moedeloos."
Begenadiging
Anina Meiring, Kansa-divisiekoördineer-derdienste: Suid Kaap/Karoo, se pa (81) is gedurende vlak 5 van die inperking oorlede. Ten spyte van al haar ervaring in sterwensbegeleiding, sou niks haar op dié ervaring kon voorberei nie. Haar pa, wat in Noordwes bly, is in September met kanker gediagnoseer. Hy het besluit om nie behandeling te ontvang nie vanweë die gevorderde stadium van sy kanker.
Anina het maandeliks gaan kuier en so het pa en dogter spesiale tye gedeel. "My ouers woon in 'n aftreeoord, maar my ma het begin sukkel om my pa snags te help. Ons het gereël dat hy snags in die siekeboeg slaap. Toe kom die inperking."
Skielik, kon eggenote wat 60 jaar getroud was, mekaar nie meer sien nie. Haar ma is slegs vyf minute per besoek toegelaat.
"Ek het gereeld gebel, maar ek kon hoor hoe my pa agteruitgaan. Ook my ma het bitter swaargekry. Ek het baie keer vir my pa gevra: 'Pappa, verstaan jy lockdown?'." Sy wou gaan groet. Een dag, het sy "heeltemal kop verloor".
"Ek het seker 100 mense gebel. Om te pleit om begenadiging, nét om te kan groet."
Die laaste wat sy van haar pa het, is 'n klankopname van sy hartmonitor en sy woorde "lief vir julle almal". 'n Sielkundige by die hospitaal het die stemnota aan Anina gestuur.
Nie humanitêr
"My broer was die laaste oomblikke daar, maar dit troos min. 'n Mens het nodig om daardie hand 'n laaste keer vas te hou, daardie lyf te voel. Daar is laaste woorde wat gesê moet word. Groet is 'n belangrike ding. Die deel van closure kry."
Haar pa is veras. Niemand was daar nie. Drie weke na sy afsterwe kon hulle hom begrawe. "Dit het ons 17 uur geneem om tot in Noordwes te reis, deur hoeveel padblokkades."
Volgens Anina is die oomblikke wanneer iemand sterf, van die belangrikste in die lewe. Nie net vir die persoon wat sterf nie, maar ook vir die familie. Sy voel ook dat dit veral onmenslik is in die geval van pasiënte wat terminaal siek is.
"Ek verstaan alles oor die virus, maar ek voel dat die regulasies ons van 'n basiese mensereg ontneem. Dit is vir my teenstrydig met wat hospice ons leer. Dit is nie humanitêr om alleen te sterf nie."
Wat die werk van Kansa-vrywilligers betref meen sy dat, alhoewel alle ondersteuningsdienste telefonies plaasvind, dit baie moeilik is om nie tasbaar met pasiënte in aanraking te kan kom nie. "Ons is nie weg nie, maar tans kan ons nie anders nie."
Sy kry baie oproepe van mense wat oor dieselfde goed wroeg as sy.
Haar stem voeg sy by dié van dr. Zach Bush, Amerikaanse internis, endokrinoloog en hospieswerker. "Van wanneer af het ons só bang geword om dood te gaan, dat ons nie bereid is om daar te wees tydens mense se lyding nie?"
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'