MOSSELBAAI NUUS - ACVV Sandkasteel Crèche het onlangs 'n nuwe skoolhoof, Willesia Dorfling, verwelkom.
Met haar aanstelling begin 'n nuwe hoofstuk vir die kleuterskool, sy personeel, die kinders en hul ouers.
Dorfling bring byna twee dekades se ervaring in vroeë kinderontwikkeling en onderwysbestuur na Mosselbaai.
Nadat sy die afgelope 15 jaar in Namibië gewoon en gewerk het, het sy en haar gesin onlangs na Suid-Afrika teruggekeer om nader aan familie en vriende te wees.
Sy is in Worcester gebore en getoë, en sê haar liefde vir leer en boeke het reeds as kleuter begin, toe gereelde besoeke aan die plaaslike biblioteek deel van haar weeklikse roetine was. "Daardie middae was pure bederf - ek het ure in die kinderafdeling spandeer, omring deur stories, op soek na die volgende groot avontuur om uit te neem," sê sy.
Haar onderwysloopbaan het in 2007 by die Carel du Toit-sentrum vir gehoorgestremde kinders in Kaapstad begin. Die ervaring het haar passie vir onderwys versterk en 'n blywende invloed op haar benadering tot die beroep gehad.
Gedurende haar tyd in Windhoek het sy by verskeie privaat skole as onderwyseres en kurrikulumkoördineerder gewerk, haar meestersgraad voltooi en in 2020 die pos as skoolhoof van Fowler House Private School aanvaar.
"Dit is ook hier waar ek 'n nuwe passie ontdek het: onderwyseropleiding. Ek glo onwrikbaar daaraan dat as jy 'n juffrou in haar klas optimaal oplei, toerus en ondersteun, dit 'n direkte, positiewe en lewensveranderende uitwerking op die kinders het."
Dorfling sê die grootste bron van vervulling in hierdie beroep is om 'n verskil in die lewens van die kinders, ouers en opvoeders te kan maak.
Sy glo dat elke kind unieke potensiaal het en dat toegeruste onderwysers die sleutel tot suksesvolle leerervarings is.
Hoewel sy nog nuut in Mosselbaai is, spreek haar eerste indrukke boekdele. "Wat ek reeds met die grootste sekerheid kan getuig is die absolute warmte waarmee ek en my gesin deur die ACVV-organisasie en die plaaslike mense ontvang is. Ons het van dag een af gevoel asof ons deel word van 'n nuwe familie. Die mense hier het oop harte en oop arms; hulle nooi jou in en bied dadelik onvoorwaardelike ondersteuning waar dit ook al nodig is. Dit is duidelik dat Mosselbaai geseën is met vriendelike mense wat opreg omgee."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’