MOSSELBAAI NUUS - Luitenant-kolonel Adonis September, bevelvoerder Mosselbaai SAPD
Dit is vakansietyd, alle inwoners van Mosselbaai en besoekers is hier om te ontspan en te rus.
Heerlike weer, son, see en sand bring mee dat Mosselbaai oorval word met besoekers en vakansiegangers: oud en jonk, groot en klein.
Dit bring mee dat misdaad ook toeneem, omdat meer mense meer geleenthede skep vir opportunistiese misdadigers.
Ons grootste bekommernisse en tendense in hierdie tyd van die jaar is: diefstal, huisbraak en diefstal, en veral diefstal uit motorvoertuie.
Die gevaarlike areas en brandpunte is die Middedorp, De Bakke-, Santos- en die Punt strandgebiede, karavaan-staanplekke, winkelsentrums en afgeleë en/of bebosde gebiede.
Voorkomingswenke
Wees waaksaam en voorkomend en sluit alles toe.
Moenie enige iets in jou voertuig los nie. Maak seker jou voertuig is gesluit en dat die alarm geaktiveer is. Verkieslik moet geen voertuie deurnag in die straat gelos word nie.
Dra sorg dat jou woonplek/karavaan gesluit is.
Geen fietse, lyfplanke, speelgoed en ander artikels moet buite gelaat word as dit nie onder direkte toesig is nie.
By strande, riviere, waterparke en enige ander kuierplekke moet 'n verantwoordelike persoon jou beursie, kontant en voertuigsleutels oppas wanneer die res pret het.
Los jou juwele toegesluit op 'n veilige plek.
Moenie alleen rondloop of fietsry nie, beweeg in 'n groep.
Moenie dat bedelaars jou irriteer en frustreer nie.
Moenie drink en bestuur nie en hou by die padreëls. Neem in ag dat Louis Fourieweg 'n besige straat is. Dit is die enigste straat wat die groter Mosselbaai verbind. Wees geduldig. Beplan jou dag en jou ritte.
My boodskap vir julle is een van seën vir hierdie vreugdevolle tyd.
Wees geduldig en vriendelik met mekaar en ook teenoor ander.
Onthou ons as SA Polisie is hier om julle wat die wet gehoorsaam, te dien.
Geniet julle tyd hier, rus en ontspan in die pragtige Mosselbaai en maak goeie herinneringe vir julle hele gesin.
Geniet julle Kersfees en nuwejaar.
As jy iets moet vat: vat 'n foto en as jy iets los, los slegs jou voetspore.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'