Breaking News Update Video
MOSSELBAAI NUUS - Delvin Safers, een van die werkers wat vasgekeer was na ‘n gebou in George ineengestort het, is veilig terug by sy huis is Mosselbaai.
Aan die manier hoe hy die sitkamer binnekom, kan ‘n mens sien hy is nog in pyn, maar verder is daar verligting en blydskap om weer by die huis te kan wees by die mense waarvoor hy lief is.
Hoewel hy nog in pyn en moeg is, kon hy darem sy eie voertuig uit George uit huis toe bestuur.
Hy sê die reëlings sou te moeilik wees vir sy familie, toe ry hy sommer self. Dít was vordering, want pas na sy redding kon hy nog nie rêrig loop nie.
“‘n Mens dink nie dit sal met jou gebeur nie. Ek en my kollega het gestaan en gesels en dit was ‘n split second toe val ons, toe is ons op die grond. Net donkerte om jou. Ek bedoel, daar is niks wat jy kan sien nie,” vertel Delvin.
Soos teen dié tyd alombekend is, kon hy met sy selfoon na buite kommunikeer, maar hy het nie dadelik hieraan gedink nie en eers gesukkel om himself meer beweeglik te kry.
Video: Delvin se geliefdes is bly hy is terug
“Toe ek hom kry toe sit ek die torch aan en sien die situasie om my. En dit was ‘n moeilike situasie, want toe sien ek eerste my kollega; hy lê hier by my en hy is oorlede.
“Dit was klaar hartseer want ek kon sê daai is maklik my future daai.”
Hy was omring deur bakstene tot hy dit stadig maar seker effens kon verwyder. Uiteindelik kon hy sy bene ook beweeg en voel daardie deel van sy liggaam was darem in ‘n werkende toestand. HY het ook ‘n video van himself geneem om te sien hoe hy lyk.
“Ek het aanmekaar gekyk of alles darem nog werk.”
“Wat in my kop aangegaan het… ek kan regtig nie sê nie, want daar was baie dinge, veral soos die ure aangaan.”
Maar die kontak met die reddingswerkers het hom frustreer met tye. “Hoe meer hulle sê hulle is naby, hoe meer kom hulle nie by my uit nie.”
Rondom 10 ure het hulle met hom gepraat, maar toe word die 12 ure, 15 ure, 20 ure, en ‘n mens raak bekommerd, sê hy.
“Ek kon onthou ek het gelê vir die eerste twee ure, dit was doodstil gewees, toe hoor ek die ambulans en die brandweer. Seker hier by die derde uur was daar mense buite wat gevra het of daar mense binnekant is.
“Toe skree ek vir die persoon om te sê ons is drie mense, maar hulle kon my nie hoor nie.”
Daar was nog twee werkers wat Delvin kon hoor, maar na die tyd het hy besef hulle was eintlik nie so naby as wat hulle geklink het nie.
“Toe skree ons almal ‘drie mense, drie mense, drie mense’,” wat die reddingswerkers toe uiteindelik hoor.
‘n Ander ding wat hom frustreer het was toe hy aanvanklik sy familie in die hande probeer kry het. Hy het gebel en gebel en nie antwoord gekry by sy familie nie. En in daardie stadium het hy nie gedink om iemand anders te bel nie.
“My gedagte was nie om te bel en te sê ek is lewendig nie, dit was om te sê goodbye, want ek weet nie of ek weer gaan uitkom hier nie.”
Die oomblik toe hy uiteindelik vry is sê hy hy kan nie rêrig beskryf anders as dat dit ‘n groot verligting was nie.
“Maar ek het gedink as ek uit sal kom, sal ek son kan sien en son kan voel op my, maar dit was ongelukkig donker gewees. Maar toe sien ek al die mense om my – dit was ‘n baie goeie gevoel gewees.”
Die feit dat daar nog mense vasgekeer is is vir hom hartseer.
Hy het ook sy kollega se familie gesien. “‘n Mens se hart breek so as ‘n mens dit sien. Hy sou afgetree het volgende jaar. Ons het nog daaroor gesels...”
Sou hy die werkers wat nog vasgekeer is kon bereik om hulle moed in te praat, sou hy vir hulle sê om te bly hoop en bid.
Iets wat hom self bly gemaak het, was om te hoor daar is mense onder die spanne wat werk wat glo dat die wat vasgekeer is langer as drie dae kan oorleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’