Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - As jong meisie wat op die eens klein Vrystaatse dorpie, Welkom grootgeword het, het haar liefde vir diere daar begin en het dié passie haar beroep geword.
Gerda Reynders, koördineerder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se Mosselbaai-tak, stap al 'n lang pad saam met die DBV.
Sy het in Welkom eers as ontvangsdame gewerk en daarna, nadat sy gekwalifiseer het, as jong inspekteur.
Sy verhuis na George en werk die afgelope sewe jaar as inspekteur by die Mosselbaai-tak. In Januarie vanjaar neem sy die leisels as takkoördineerder oor. "Ek wil graag die tak opbou om een van die beste DBV-takke te word," vertel Reynders. "Ons het baie uitdagings soos die dragtige teefhond wat ons aan 'n boom opgehang gevind het. Ongelukkig het ons nie die skuldige gevang nie."
Volgens Reynders gaan dit finansieël altyd moeilik, veral tydens die Covid-19-pandemie. "Die gemeenskap se hande is altyd oop wat kos betref, maar lopende uitgawes soos salarisse, instandhouding, water en ligte, voertuigonderhoud en brandstof bly 'n groot uitdaging," sê sy.
"Ons het ook op BackaBuddy gaan registreer vir 'n sterilisasie-veldtog sodat die publiek kan geld skenk deur op ons Facebook-blad die skakels te volg. DBV Mosselbaai het ook 'n permanente veearts en assistent aan diens en gaan hulle die bestaande kliniek eersdaags vergroot."
Die DBV is die enigste dierewelsynsorganisasie in Suid-Afrika wat deur wetgewing gereguleer word (DBV Wet 163 van 1993). Die inspekteurs is ook by magte om diere ingevolge die Dierebeskermingswet 71 van 1962, asook die Wet 24 van 1935 (Beskerming van Gedresseerde Diere Wet), te konfiskeer en kriminele klagtes teen oortreders aanhandig te maak.
Kyk 'n video hieronder:
Hierdie kinders bring gereeld hulle diere vir ondersoeke en kos na die DBV op Mosselbaai. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'