Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Vinnette Vosloo se debuutdigbundel, Voetval van ’n digter, gaan oor die lewe - die lig én die donker daarvan.
Vosloo is sedert September 2017 ’n Mosselbaaier. “Die beste besluit ooit,” sê sy oor haar trek hierheen uit Roodepoort.
“My kleurvolle digbundel is ’n plek waar ek my eie stem ontgin, koester en tot volle wasdom bring binne die volsirkel van aarde en hemel,” sê sy.
Voetval van ’n digter het in September die lig gesien, waarna die amptelike vrystelling in November gevolg het - vir Vosloo was dit ’n perfekte dag.
Sy is ’n versorger en gemeenskapsgesondheidswerker van beroep, en werk vir die Piet Julies HIV/Aids Action Group, maar doen ook privaat versorging.
“My wese, gebalanseer deur vreugde, vrede en medelye, weerspieël my roeping as ’n deernisvolle versorger van bejaardes, siekes en kindertjies. Juis hierdie teelaarde van my menswees word hoorbaar in my interpretasie van die werklikheid om my:
• kleure van donker en van diepte, wonderskakerings van skilderliefde;
• kleure van lig en pastelle - sag, wasemend, vol heimwee en skaterlag.”
Haar inspirasie vir die bundel het van die lewe, spesifiek háár lewe, gekom.
“Mense het al genoem ek het ’n inspirerende storie, ek moet dit skryf. Ek wou dit ’n bietjie anders maak as die gewone biografie; ek het besluit om my storie in digvorm te sit.”
Voetval van ’n digter het gedurende Covid-tyd begin vorm aanneem, sê Vosloo. “Covid het baie hartseer en donker tye in ons land gebring, maar ek het die tyd gehad om te skryf.
“Dit was nog altyd ’n droom van my. Die droom het nou net ’n werklikheid geword. Ek het ’n amazing skryf-journey met amazing mense agter en voor my gehad.”
Vosloo sê as jy hierdie Kersfees iemand met woorde wat genees, gloei en leef wil omvou, is hierdie tweetalige bundel ’n pragtige geskenk. WhatsApp haar by 082 826 4722 of stuur ’n e-pos na vinnettevosloo819@gmail.com vir meer besonderhede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’