FRIEMERSHEIM NUUS - Te danke aan hul getroue borg kan die Hartenbos-drawwers vanjaar vir die 10de keer die gewilde Moordkuil-wedloop in Friemersheim aanbied.
Die wedloop het laas in 2019 plaasgevind, en die klub sien daarna uit om die atlete weer op hierdie beeldskone roete te verwelkom.
Die atlete spring by die NG Kerk Friemersheim weg en eindig ná 15 km weer daar. Die Friemersheim-kerkgemeenskap gaan ook weer heerlike roosterkoeke en ander verversing by die wedloop voorsien.
Die wedloop vind op Saterdag 20 Desember om 07:00 plaas. Die afsnytyd vir die 15 km is twee uur en 30 min; vir die 4,5 km-pretdraf is dit een uur.
Lloyd Bosman hou tans die wedlooprekord met ’n tyd van 52:32 en het dit al vyf keer gewen. Leilani Scheffer het die vrouewedloop al drie maal gewen en hou ook die rekord met 1:04:18. Onder die Hartenbos-drawwers hou Mario Meyer (1:05:23) en Lecile Nel (1:12:50) die klub se rekords.
“Hierdie is een van SWD se mooiste wedlope langs die Tuinroete. Dit is ’n sirkelroete in die kloof af en weer anderkant aan die voetheuwels van die Outeniquaberge uit,” sê Hartenbos-drawwers.
Behalwe vir die natuurskoon, sê die organiseerders, het Friemersheim die sjarme van ’n plek waar tyd stadig loop en die natuur oorheers. Natuurlik is daar ook die kunstenaar Fourie Ackermann se muurskilderye teen verskillende huise waarvoor dié dorpie bekend is.
Daar is prysgeld vir die deelnemers op die spel. Die wedloop se aanlyn inskrywings sluit Maandag 15 Desember en kan by www.aswd.co.za gedoen word. Laat inskrywings kan van 16:00 tot 18:00 op Vrydag 19 Desember by Total Energies Groot-Brakrivier gedoen word. Geen inskrywings word op die dag van die wedloop toegelaat nie.
Verdere navrae: Ferdie Nel by 083 294 2640, Petro Nel by 079 188 9579, of stuur ’n e-pos na hartenbosdrawwers1@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’