MOSSELBAAI NUUS - Vandag, Maandag 8 Desember, is die laaste dag vir enige kommentaar oor of besware teen die moontlike omheining van ’n gedeelte van die Bayside-sentrum se parkering.
Mossel Bay Advertiser het vroeër vanjaar oor dié omheining berig ná ’n aansoek ingedien is om, met die hernuwing van die huurooreenkoms vir die sentrum se parkeerterrein, ’n deel van die parkering te omhein en daarmee saam ’n fooi vir parkering te vra.
’n Item rakende hierdie aansoek het gedurende Julie se ope munisipale raadsvergadering gedien.
Die aansoeker wou aanvaanklik gedeeltes voor én agter die sentrum laat omhein, maar die munisipaliteit het ’n alternatiewe voorstel gemaak; dat slegs die deel agter die sentrum by Marketstraat moontlik omhein word.
Volgens die raadsitem kan die sentrum se parkering in vier verskillende dele (A, B, C en D) verdeel word. Een daarvan is voor die sentrum by Blandstraat (B), nog ’n deel is direk agter die sentrum by Marketstraat (A) en die ander twee dele is oorkant Marketstraat. Een grens aan Adamstraat (D) en die ander aan Kerkstraat, tussen Mosselbaai-toerisme en die ingang na La Peron (C).
Die munisipaliteit het gedurende September gesê die openbaredeelnameproses wat gewoonlik ná so ’n aansoek volg was onderhewe aan die aansoeker se aanvaarding van die munisipaliteit se alternatiewe voorstel.
“Die terugvoering word aan die aansoeker gestel wat dit dan kan aanvaar of verwerp, waarna die amptelike publieke deelnameproses, wat deur regsdienste geadverteer word, volg op grond van die aansoeker se respons.”
Die munisipaliteit het op 7 November ’n amptelike kennisgewing oor die openbaredeelnameproses in Mossel Bay Advertiser geplaas. Vir kommentaar om in ag geneem te word, moet dit vandag, 8 Desember, nog ingestuur word.
Sien die volledige kennisgewing hier: Kennisgewing
Sien die volledige besonderhede oor die aansoek hier: Raadsvergadering 31 Julie (sien bladsy 1880)
Kommentaar moet per e-pos of skriftelik aan die munisipale bestuurder gerig word by:
• admin@mosselbay.gov.za of
• Posbus 25, Mosselbaai, 6500
Navrae: 044 606 5000 of sjombile@mosselbay.gov.za.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’