MOSSELBAAI NUUS - 'n Aansoek is ingedien om met die hernuwing van die huurooreenkoms vir Bayside-sentrum se parkeerterrein 'n deel van die parkering te omhein en daarmee saam 'n fooi te vra.
Bayside is in die Mosselbaai-sakekern tussen Bland- en Marketstraat.
'n Item rakende hierdie aansoek het gedurende Julie se ope munisipale raadsvergadering gedien.
Volgens dié item kan die sentrum se parkering in vier verskillende dele (A, B, C en D) verdeel word. Een daarvan is voor die sentrum by Blandstraat (B), nog 'n deel is direk agter die sentrum by Marketstraat (A) en die ander twee dele is oorkant Marketstraat. Een grens aan Adamstraat (D) en die ander aan Kerkstraat, tussen Mosselbaai-toerisme en die ingang na La Peron (C).
Die aansoeker wil dele voor en agter die sentrum omheim.
Volgens die item ondersteun nié die direktoraat vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling óf die wyk 8-raadslid, Lodewyk Coetzee, hierdie aansoek nie.
Redes wat die aansoeker vir die omheining aanvoer sluit in kliënte se veiligheid weens rondlopers, besoekers aan nagklubs wat glo in die parkeerterrein baklei of doughnuts met motors maak, huurders wat dikwels urine en ontlasting voor hul winkelingange moet skoonmaak, en ook die gebruik van Bayside se parkering deur ander ondernemings se kliënte.
Voetgangerbeweging en fragmentasie
Die direktoraat sê die hele idee vir die sakekern is om voetgangerbeweging aan te moedig. Coetzee sê ook dit skep nie 'n gesonde stedelike omgewing nie en sal publieke spasies fragmenteer.
Ná verdere interne bespreking is dit voorgestel dat slegs deel A agter die sentrum by Marketstraat moontlik omhein word.
Volgens hierdie voorstel moet dele B en C oop bly vir publieke parkering en D in die toekoms vervreem word vir verdere ontwikkeling. Die voorstel soos dit in die item vervat is, is ten slotte eenparig deur die raad aanvaar.
Prosesse
'n Openbaredeelnameproses moet egter eers plaasvind voor enige gedeeltes van die parkering omheim en fooie gehef word.
By navraag oor waar die proses staan, het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê die terugvoering vanuit die raad word aan die aansoeker gestel, wat dit dan kan aanvaar of verwerp.
Daarna kan die amptelike openbaredeelnameproses, wat deur regsdienste geadverteer word, volg op grond van die aansoeker se respons.
"Die aansoeker het nog nie die raadsbesluit aanvaar nie en dus kon die wetlik voorgeskrewe publieke deelnameproses nog nie begin met advertering van die raadsbesluit nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’