MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit doen opnuut 'n beroep op inwoners om onwettige kragaansluitings by die munisipaliteit aan te meld.
Die munisipaliteit gee verskeie opsies: teen 'n klein fooi kan 'n boodskap per SMS gestuur word na 44802, of skakel 044 606 5000, of stuur 'n e-pos aan admin@mosselbay.gov.za
Munisipale woordvoerder, Nickey le Roux sê die munisipaliteit voer 'n stryd teen onwettige kragaansluitings. “Uiteindelik ly die groter gemeenskap onder die burgerlike ongehoorsaamheid van sommige van die inwoners. Daarom dus die pleidooi dat onwettige kragaansluitings aangemeld moet word.”
Die munisipale personeel verwyder gereeld onwettige aansluitings en die verlengkoorde of kragdrade waarmee die onwettige aansluitings gemaak word. Le Roux sê vir die personeel se veiligheid, is hierdie operasies afhanklik van die beskikbaarheid van die SA Polisie se openbare orde-eenheid, aangesien personeel dikwels met hul lewens gedreig word wanneer onwettige aansluitings verwyder word.
“In die afgelope maand is verskeie operasies te midde van die Covid-19 omstandighede uitgevoer, 135 onwettige aansluitings is verwyder en etlike meter kragkabel is op beslag gelê. In die voorafgaande maande operasies by herhaling onderneem en onwettige kragaansluitings is ook verwyder.”
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'