MOSSELBAAI NUUS - Nadat Nic van der Westhuizen in Mei vanjaar in die nuus was weens sy vermoede dat daar artefakte uit die tipies aan die middel- en vroeë steentydperk in die oop stuk grond langs sy huis in Hartenbosheuwels gevind is, stoei hy steeds om ontwikkeling op dié perseel te keer.
Van der Westhuizen het na die ontdekking met erfeniskenners soos dr Jan de Vynck, van die Nelson Mandela Universiteit se African Centre for Coastal Palaeoscience, wat die die oorsprong van die moderne mens in die Suid-Kaap bestudeer gesels.
De Vynck het in Mei by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat hy oortuig is daarvan dat dit deel vorm van die rykdom van voorbeelde aan die Suid-Kaapse kus wat klinkklaar dui op die kognitiewe ontwikkeling van die moderne mens.
Hy was dit eens dat wetgewing wat ontwikkeling betref te kort skiet om 'n sensitiwiteit teenoor kulturele erfenis te akkommodeer.
Van der Westhuizen het die afgelope maande eiehandig probeer om die situasie onder die aandag van Erfenis Wes-Kaap te bring, met gemiddelde sukses. Sedert sy vorige kontak met die Advertiser, was daar herhaaldelike beweging op die stuk grond wat dui daarop dat dit ontwikkel gaan word, wat hom verder ontsig het.
Van der Westhuizen hou voet by stuk dat die grond reeds meer as 20 jaar deel van 'n bewarea is en dus nie ontwikkel mag word nie.
'n Onlangse advertensie in die Advertiser met betrekking tot 'n aansoek om onderverderling en die hersonering van dieselfde stuk grond in Besembossingel, Hartenbosheuwels, het hom opnuut omgekrap. Die publiek kan ingevolge die advertensie tans kommentaar op die aansoek lewer.
Volgens die Mosselbaai-munisipaliteit is daar geen bewys op rekord dat daar enige erfenisstatus is aan die betrokke erf of gronde nie. Daar kon ook niks opgespoor word wat bevestig dat dit ‘n verklaarde bewarea is nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'