Update
MOSSELBAAI NUUS - Ná n 42-jarige ma van vyf 19 keer met 'n mes by haar woning op Mosselbaai toegetakel en vir dood agtergelaat is, het Mossel Bay Advertiser vasgestel dieselfde vrou het in Oktober 'n klag van verkragting teen dieselfde verdagte aanhangig gemaak.
Ernstige vrae sal gevra moet word hoekom die vermeende verdagte deur 'n landdros by die Mosselbaai-landdroshof op borgtog van R800 vrygelaat is, ondanks die feit dat die ondersoekbeampte borgtog teen dié skedule 6 misdryf geopponeer én die vermeende beskuldigde reeds aan 'n langs lys soortgelyke oortredings skuldig bevind is.
Van sy vorige oortredings waaraan hy reeds skuldig bevind is, sluit in verkragting (2006), aanranding met die doel om ernstig te beseer (2008), diefstal (2009), nóg twee diefstalklagtes in 2012, nóg 'n aanrandingsaak in 2013 en die besit van dwelms in 2017.
Ná die beweerde mesaanval verlede Vrydag, 8 November, is die verdagte in hegtenis geneem op 'n aanklag van poging tot moord.
Die vrou, van KwaNonqaba is ná die aanranding na die Mosselbaai-provinsiale hospitaal geneem waarna sy na die intensiewe sorgeenheid van die George-provinsiale hospitaal oorgeplaas is.
Sy is intussen na die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad oorgeplaas.
Die verdagte se identiteit kan nie bekend gemaak word tot hy nie op die aanklag van verkragting gepleit het nie.
Familie getraumatiseer
Advertiser het die woning van die slagoffer die afgelope week besoek. Haar familie was onsteld en sê hulle is getraumatiseer nadat 'n polisiebeampte na bewering aanvanklik kort nadat die vrou aangeval is en hospitaal toe geneem is, die nuus aan hulle meegedeel het dat sy nie die aanval op haar oorleef het nie.
Familie het kort daarna vanoor Suid-Afrika na Mosselbaai gereis om die begrafnis by te woon, maar het kort onderweg na Mosselbaai uitgevind die slagoffer het inderdaad die voorval oorleef.
Advertiser het navrae aan die KwaNonqaba-polisiewoordvoerder, ao Kappie Kapp oor die ernstige aantygings gestuur.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens kan nie bevestig dat enige van sy lede na die familie van die slagoffer gegaan en 'n boodskap oorgedra het dat die slagoffer dood is nie.
KwaNonqaba-polisie se bestuur neem egter hierdie stelling baie ernstig op en ons doen 'n beroep op die familie om na vore te kom om die polisie te help om verder aandag te gee aan hierdie baie ernstige situasie."
Verdagte was 'vriendelike' ou Geliefdes van die slagoffer sê hulle sou nooit die verdagte opsom dat hy 'n wreedaardige daad kon pleeg nie.
"Hy het so 'n sagte stemmetjie en het vredeliewend voorgekom," sê 'n vriend van die slagoffer. Hy sê op die dag van die aanval het hy die slagoffer gegroet en in die straat afgestap waarna iets vir hom gesê het om terug te draai.
"Toe ek by die huis kom het ek haar bebloed op die kombuisvloer aangetref. Sy kon nog praat maar was vol messteke."
'n Niggie van die man sê die verdagte het buite die woning op 'n stoel gesit terwyl sy en die slagoffer skottelgoed gewas het. "Die volgende oomblik het hy ingekom en haar begin aanval. Ek het uitgehardloop en hulp ontbied."
Die verdagte het sy borgvoorwaardes oortree omdat hy volgens die voorwaardes nie met die slagoffer kontak mag maak nie.
Hy het ná die voorval gevlug en is kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem. Hy is steeds in aanhouding.
Vorige artikel: Ma wat 19 keer met mes gesteek is, steeds in intensiewe eenheid
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’