Update Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Ronaldo Muller (15) van Wolwedans op Groot-Brakrivier wat op Donderdag, 17 Februarie ernstig beseer is nadat 'n gesloopte huis se sementblad in Daffodilsingel op hom en 'n vriend ineengestort het, is Maandag 28 Februarie in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geopereer.
Volgens Muller se ma, Charolene was die operasie baie lank en is hy eers na 19:00 die aand uit die teater.
Salamen Boesak (25), wat ook tydens die voorval beseer is, is Woensdag, 2 Maart geopereer. Beide staar 'n lang hersteltyd in die vooruitsig. Teen saktyd het Muller nog nie met die dokters gepraat oor die operasies nie en het sy ook reeds gister teruggekeer na Groot-Brakrivier.
Muller en Boesak is die dag van die ongeluk na die plaaslike provinsiale hospitaal gehaas en dieselfde dag nog na George-hospitaal oorgeplaas. Op Maandag, 21 Februarie is hulle per helikopter na die Groote Schuur hospitaal gevlieg.
Daffodilsingel was in Desember 2021 in die nuus toe vyf gesinne aangesê is om hul huise te ontruim. Dit volg na hewige reënval die grond onstabiel gemaak het.
Omvang van grondglippe
Belangrike besluite is verlede week geneem tydens 'n raadsvergadering oor veiligheid van die inwoners wat deur grondglippe geraak word. Na 'n besoek deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé en sy burgemeesterskomitee aan Groot-Brakrivier vroeër verlede week om eerstehands vas te stel wat die omvang van grondglippe in die area op die plaaslike gemeenskap is, is die munisipale bestuurder, Colin Puren, gedelegeerde magte gegee om die stappe te neem om die veiligheid van die geaffekteerde gemeenskap te verseker. Hy sal ook verantwoordelik wees vir die tydelike verskuiwing van gesinne wat steeds in onveilige strukture woon. Die tydelike strukture word tans vervaardig en hulp sal voorsien word met die tydelike verskuiwing.
VIDEO - Daffodilsingel se huise word afgebreek:
Vanaf Maandag, 28 Februarie is kontrakteurs besig met die oprigting van wendyhuisies terwyl inwoners tans by vriende en familie tuisgaan. Vier van die huisies behoort volgens die kontrakteur vandag, 4 Maart voltooi te wees.
Alicia Heyns een van die inwoners se huis is verlede Vrydag gesloop nadat sy gewaarsku is dat die struktuur baie gevaarlik is.
"Dit is baie hartseer om te sien dat jou huisie waarin jy so lank gebly het, in 'n kort tydjie afgebreek word," het sy aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Na afloop van dié proses, sal 'n verslag van werksaamhede voor die raad dien. Mosselbaai-munisipaliteit het reeds met die provinsiale owerheid geskakel vir onder meer befondsing.
"Mosselbaai-munisipaliteit doen alles moontlik om die geaffekteerde gesinne en die twee jongmense wat intussen ook beseer is, van hulp te wees," het die uitvoerende onderburgemeester, raadsheer Cliifie Bayman gesê.
Ronaldo Muller (15) net voor sy groot rugoperasie in die Groote Schuur-hospitaal.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'