Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Op Dinsdag 18 Januarie het die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertius Simmers, die nasionale minister, Mmamoloko Kubayi en haar adjunk, Pamela Tshwete tydens ‘n besoek aan die Tuinroete vergesel.
Die besoek wat oor twee dae strek het ‘n oorsig van behuisingsontwikkelings in die provinsie ingesluit.
Die delegasie het ook besoek afgelê by die eienaars van die huise by Wolwedans in Groot-Brakrivier wat tydens die afgelope reënseisoen in grondverskuiwings begin kraak het.
Kubayi was geskok om eers ter plaatse te hoor dat inwoners ‘n uitsettingsbevel ontvang het sonder dat daar alternatiewe behuising dadelik aan hulle beskikbaar gestel is.
Sy het gelas dat die Mosselbaai-munisipaliteit vandeesweek nog met die inwoners moet vergader en dat terugvoering dan aan haar verskaf moet word.
Video: Ministers besoek beskadigde huise in Groot-Brakrivier
Vyf gesinne het op Vrydag, 10 Desember elk ‘n uitsettingsbevel ontvang om onmiddellik hul huise te ontruim na die baie reën die grond waarop hul huise gebou is, onstabiel gemaak het.
Die delegasie het die Mountain View ontwikkeling langs Louis Fourieweg besoek, waar hulle gesprek gevoer het met vrouekontrakteurs betrokke by die projek.
Kubayi het haar tevredenheid met die projek te kenne gegee, maar gesê dat die werk eers behoorlik afgehandel is wanneer lede van die gemeenskap wat vir huise geoormerk is, hulle intrek suksesvol neem.
Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertius Simmers, adjunk minister Pamela Tswete en die nasionale minister, Mmamoloko Kubayi tydens hul besoek aan Wolwedans in Groot-Brakrivier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'