Update Video
GROOT-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Ronaldo Muller (15) en Salamen Boesak (25) van Greenfield op Groot-Brakrivier is Donderdag, 17 Februarie ernstig beseer nadat 'n gesloopte huis se sementblad in Daffodilsingel op hulle ineengestort het.
Muller en Boesak is na die provinsiale hospitaal gehaas en dieselfde dag nog na George-hospitaal oorgeplaas.
Die mans sou daarna na 'n Kaapse hospitaal oorgeplaas word, maar weens 'n tekort aan beddens kon dit nie gedoen word nie. Hulle is Maandag, 21 Februarie per helikopter na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gevlieg.
Volgens Muller se ma, Charolene, het hy sewe rugwerwels gebreek en twee van die werwels het knoppe op sy rug gemaak. Hy het ook sy maag beseer.
"My kind is onder sterk verdowing en verduur baie pyn," het sy aan Mossel Bay Advertiser gesê.
"Hy dra 'n staalrugstut en kan glad nie beweeg nie. Hy het darem nog gevoel in sy bene en hande," sê Charolene.
Boesak se rug is ook beseer en hy dra ook 'n rugstut om beweging te vermy wat tot verdere skade kan ly. Boesak het op die toneel gekla dat hy min gevoel in sy bene het.
Daffodilsingel was in Desember 2021 in die nuus toe vyf gesinne aangesê is om hul huise te ontruim. Dit volg na hewige reënval die grond onstabiel gemaak het. Verdere reënval voorverlede week het waarskynlik ook tot die grondverskuiwing bygedra.
VIDEO: Verskaf
Na 'n vorige grondverskuiwing is dié spesifieke huis waar die voorval plaasgevind het afgebreek. Dit het tot gevolg gehad het dat die betonblad, wat op pilare gestut was, 'n kuierplek vir jong mense geskep het.
Inwoners het owerhede gewaarsku dat 'n ongeluk onvermydelik gaan wees en verlede Donderdag se gebeure het hul vrese bevestig. Raadslede van die Mosselbaai-munisipaliteit het dieselfde aand en gereeld daarna besoek by die toneel en die gemeenskap afgelê.
Die betonblad waaronder Muller en Boesak was toe dit inmekaarsak.
Vorige arikels:
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'