Update
MOSSELBAAI NUUS - Minderjarige kinders was glo betrokke by ‘n grusame hondegeveg vroeër vandag op Mosselbaai. Beeldmateriaal van die gevegte is deur ‘n werknemer van Scorpio Sekuriteit vasgevang.
Die kinders het met die honde by JCC-kamp duskant Boland Park om ongeveer 11:30 in ‘n oop veld bymekaar gekom. Die video is altesaam bykans 30 minute lank en wys grafiese beeldmateriaal van die kinders wat die honde aanhits en dan in ‘n geveg betrokke raak.
Die Dierebeskermingsvereniging op Mosselbaai het hulle kort na die voorval na die toneel gehaas.
KwaNonqaba-polisiebeamptes het die DBV bygestaan. Polisiewoordvoerder, Sersant Kapp sê toe hulle op die toneel aankom, was die hondegeveg reeds verby. Hy sê daar was wel duidelike ‘bewyse’ dat die honde op die toneel seergekry het.
Die omvang van die sogenaamde bewyse is nog nie bekend nie. Personeel van die DBV het na ‘n ondersoek drie honde uit die woongebied verwyder.
Sersant Kapp sê die honde is vir mediese behandeling geneem.
Die DBV sal na verwagting sake teen die betrokke minderjarige kinders aanhangig maak, sodra hulle onder meer die mediese verslae van ‘n veearts ontvang het.
“Die honde is nou veilig en daar word na hulle omgesien. Maatskaplike dienste sal ook betrokke wees in die proses, soos die kinderwet dit bepaal. Ons vertrou dat die kinders wat hierby betrokke was ook die nodige leiding en ondersteuning sal kry.”
Vorige artikel: Beeldmateriaal van hondegeveg skok
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'