Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n 25-jarige inwoner van Da Nova in wie se besit eksplisiete kinderpornografie gevind is, het aangedui dat hy 'n pleitooreenkoms met die Staat wil aangaan.
Die verdagte, wie se identiteit nie bekend gemaak kan word tot hy formeel gepleit het nie, is sedert 2 Februarie in aanhouding nadat meer as 48 foto's, wat meestal dade met kleutermeisies wys, op sy selfoon gevind is.
Die Staat het ook op verskeie ander toestelle wat in die verdagte se kamer gevind is, beslag gelê.
Borgtog is tydens 'n vorige hofverskyning aan die verdagte, wat saam met sy ouers woon, geweier.
'n Strafregkenner, dr Llewelyn Curlewis, sê 'n pleitooreenkoms vervroeg dikwels die onvermydelike wanneer die Staat 'n waterdigte saak het en die uitslag in alle waarskynlikheid na 'n duur en uitgeregte hofproses dieselfde sal wees.
Die verdediging kan dit as versagtende omstandighede aanbied omdat die beskuldigde in die geval dan skuld erken vir sy wandade en nie die hof se tyd mors nie.
Die vonnis is ook in die meeste gevalle met 'n pleitooreenkoms gewaarborg.
Staatsaanklaer Gerda Marx het tydens die verdagte se borgaansoek borg teengestaan en gesê die beskuldigde is indirek verantwoordelik vir die seksuele misbruik en verkragting van kinders.
"Dit is 'n baie ernstige oortreding en kinders wêreldwyd moet beskerm word teen mense soos dié beskuldigde."
Marx het gesê alles kan deesdae aanlyn bestel en afgelewer word, "kinders insluitend".
Sy het aan die hof gesê aanlyn-uitbuiting van kinders, is aan die orde van die dag.
"Roofdiere hoef nie in die strate te dwaal om toegang tot kinders te kry nie. Net 'n selfoon en internet nodig. Die beskuldigde is in besit gevind van grusame beelde waar kinders mishandel word."
Die verdagte se ma het gereeld sy hofsake bygewoon.
Die saak is uitgestel tot 22 Januarie, 2025 vir voorbereiding op die pleitooreenkoms.
Vorige artikels:
- 'Alles kan deesdae aanlyn bestel en afgelewer word, kinders insluitend'
- Kinderpornografie 'uitsonderlik grusaam'
- 1,2 miljoen foto's op kinderporno verdagte se toestelle moet nagegaan word
- Kinderpornografie: 2 aparte sake in die hof
- Kinderporno-verdagte staar reeds 44 aanklagte in die gesig
- Mosselbaaier vas in Internasionale Kinderporno-ondersoek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’