MOSSELBAAI NUUS - Twee inwoners van Mosselbaai sal eersdaags weer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van kinderpornografie.
Die inhegtenisname van 'n 25-jarige man van Da Nova, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur nadat hy verlede Vrydag as deel van 'n internasionale ondersoek in die Wes-Kaap na vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie by sy woning vasgetrek is.
Dit volg op deeglike navorsing en speurwerk in 'n gesamentlike operasie deur die polisie se Eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad en die Amerikaanse departement van binnelandse sake (Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade).
Polisiebeamptes verbonde aan die Mosselbaai se Eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, onder leiding van Kaptein Franco Bestbier het die man by sy woning gaan haal en hom na die Mosselbaai-aanhoudingselle geneem.
Die verdagte het Maandag sy eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak, en staan tereg op 44 aanklagte van die besit van kinderpornografie.
Verskeie toestelle wat in sy besit gevind is, is op beslag gelê en die ondersoek duur voort.
Daar sal dus na verwagting meer aanklagte by die klagstaat gevoeg word. Die verdagte bly in aanhouding en sal op 23 Februarie formeel om borgtog aansoek doen.
Intussen sal 'n 45-jarige man van Bothastrand, Groot-Brakrivier, weer op 12 Maart in die dorp se landdroshof verskyn nadat hy in Mei verlede jaar by 'n spogwoning waar hy saam met sy bejaarde ma woon, in hegtenis geneem is.
Ondersoekbeamptes het op eksplisiete kinderpornografie afgekom, wat hy op sy selfoon gestoor het.
Die verdagte is destyds op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy staar verskeie aanklagte van die besit van kinderpornografie in die gesig. Die verdagtes se identiteite mag nie bekend gemaak word totdat hulle gepleit het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’