Breaking News Update
MOSSELBAAI NUUS - Kaptein Shaun van der Heever van die Suid-Afrikaanse polisie se ondersoekende sielkunde afdeling het tydens die borgaansoek van ‘n 25-jarige man van Mosselbaai aan die hof gesê die foto’s van kinderpornografie wat op die verdagte se selfoon gevind is, is uitsonderlik grusaam.
Die verdagte, wat in Da Nova woon het Woensdag weer in die Mosselbaai-landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek. Omdat dit 'n skedule een misdryf is, is die onus op die staat om te bewys hoekom borgtog teengestaan moet word.
Hy is sedert sy in hegtenisname op 2 Februarie in aanhouding. Die staat staan sy borgaansoek teen. Die hoofrede wat die staat aanvoer is weens die erns van die misdrywe is dit in belang van geregtigheid dat borgtog aan die verdagte geweier word.
Die staat het 'n aantal toestelle, wat altesaam meer as 1,2 miljoen foto’s op het, by die verdagte gekonfiskeer.
Slegs op een selfoon is reeds 48 foto’s van eksplisiete kinderpornografie ontdek. Die foto’s op die ander toestelle moet nog geïdentifiseer word en dit is nog nie bekend of dit ook foto’s van kinderpornografie is nie.
Van der Heever het aan die hof gesê die een selfoon is onder die verdagte, wat saam met sy ma woon, se kopkussing gevind.
Die ander toestelle, wat hardeskywe insluit is in sy kamer gevind.
Van der Heever het aan die hof gesê die foto’s wat op die verdagte se foon gevind is, is almal foto’s waar volwasse mans dogtertjies wat kleuters is, seksueel mishandel.
Jong vroulike kleuters
Hy het gesê die verdagte hou van ‘n spesifieke tema en dit is jong vroulike kleuters.
Van der Heever het sommige van die foto’s in detail aan die hof beskryf. Dit sluit onder meer in ‘n foto waar twee mans gelyktydig met een slagoffer besig is asook ‘n foto wat bloed by ‘n slagoffer se geslagsdeel toon.
Die slagoffers in die foto’s is nog nie geïdentifiseer nie. “Mense wat hierdie tipe foto’s besit, is aktief betrokke in die seksuele mishandeling van minderjariges. Daar sal byvoorbeeld ‘n versoek van een van die deelnemers wees oor wat spesifiek met ‘n slagoffer gedoen moet word.”
Hy het gesê hulle het die verdagte se toestelle gekonfiskeer en hom nie dadelik in hegtenis geneem nie omdat hulle hulself eers van die inhoud op die toestelle moes vergewis en toe op die huidige 48 foto’s afgekom het.
In die twee weke wat verloop het voor die verdagte se inhegtenisname het hy nog ongeveer 82 000 foto’s op ‘n nuwe selfoon afgelaai.
Dit is nog nie bekend of die foto’s kinderpornografie bevat nie en die toestel is besig om nagegaan te word. Hy het gesê indien die verdagte borgtog kry, sal hy dalk van die foto’s uitvee.
Petisie
Inwoners van die Da Nova omgewing het voor die hofverrigtinge voor die hofgebou bymekaar gekom en 'n petisie teen die verdagte se borgaansoek geteken.
Advokaat Gerda Marx vir die staat het die petisie as 'n aanhangsel aan die hof oorhandig.
Die saak is uitgestel na 3 April vir die verdagte om te besluit of hy wil getuig of slegs 'n verklaring vir sy borgaansoek wil inhandig.
Hy bly in aanhouding.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’