MOSSELBAAI NUUS - Marion Bruinders, weduwee van Jovan Bruinders (54), ‘n gerespekteerde en geliefde politieke leier en munisipale raadslid sê dat dit moeilik is om te saam te vat wat sy die meeste van hom sal mis, want daar is só baie. “Hy was my ou maatjie.”
Met die Mossel Bay Advertiser se besoek vandeesweek aan die Bruinderse se huis in Barracudastraat, Uitbreiding 13, was Marion of Melly soos almal haar ken, die toonbeeld van krag en kalmte.
Wat dít so merkwaardig maak, is dat sy in een week, die twee mans naaste aan haar verloor het. Haar pa het verlede Woensdag, 11 November afgesterf en Jovan is op Saterdag, 14 November in die vroeë oggendure in die Life Bay View privaat hospitaal aan natuurlike oorsake oorlede.
Toe sy vandeesweek met die Advertiser gesels, was sy volstoom besig met die reëlings vir haar pa se begrafnis môre, 21 November.
Volgende week op Saterdag, 28 November neem sy van Jovan afskeid. Die huisdiens is om 10:00, Barracudastraat 95 en begrafnis vanuit die Holy Nativity Kerk in Uitbreiding 13 om 11:00.
Die Bruinderse was 15 jaar getroud, maar ken mekaar al baie langer.
Jovan is op 11 Maart 1966 op Oudtshoorn gebore. “Om 04:00 die oggend, dieselfde tyd wat hy gesterf het,” sê Melly. Die Bruinders-gesin het na Ceres verhuis en toe op Mosselbaai gevestig, waar Jovan eers in Ridgeview Primêre Skool en toe aan Hoërskool Sao Bras sy skoolloopbaan voltooi het.
Gedurende sy jeug, was Jovan ‘n goeie sportman. Hy het veral in skaak en krieket uitgeblink en sy provinsiale kleure in beide verwerf. Later was hy Sussex-krieketklub se snelbouler.
Op skool was hy reeds aktief in die politiek betrokke en het vroeg met die gereg gebots vanweë sy politieke opinies.
Hy het regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland gaan swot.
Politieke leierskap
Jovan het sy politieke tande gesny in die onstuimige jare van die 1980s. As aktivis was hy nou betrokke by die United Democratic Front (UDF) se politieke programme gemik teen die driekamer parlementêre stelsel, behuising, skoolboikotte en apartheid op strande.
As een van die oorspronklike stigters van die D’Almeida-gemeenskapsvereniging was hy deel van die beplanningskomitee vir die optog wat in die laat 1980s na die plaaslike “wit strande” gehou is.
Met die ontbanning van die ANC in 1990, het Jovan formeel by die ANC aangesluit. en was deel van die grondbesetting in Uitbreiding 13, die oorspronklike Civic Park.
Jovan vroeg reeds tydens sy politieke betrokkenheid sterk leierseienskappe getoon. Kennisse vertel van sy dapperheid en dat hy nie geskroom het om sy staal te toon in moeilike situasies nie. Hoewel hy glo sy “jeudige toorn” opsygesit het, het hy nooit sy drif en passie teen diskriminasie prysgegee nie.
Jovan het ‘n munisipale raadslid geword onder burgermeesterskap van wyle Johnny Stofile, maar het bedank om as beampte vir die munisipaliteit te werk. Later, nadat hy weer as raadslid begin dien het, was hy in 2016 tydens die plaaslike verkiesing, die ANC se burgemeesterskandidaat. Vanaf 2016 het hy die posisie van ANC-hoofsweep in die raad beklee. Hy verlaat die posisie ná sy verkiesing tot ANC-voorsitter van die Victor Molosi-streek in 2018.
Kollegas in die ANC onthou dat Jovan nooit vergaderings bygewoon het sonder sy ANC-grondwet nie, net om te verseker dat alle beplande aksies binne die raamwerk van die organisasie geskied.
Hulle onthou hom ook as ‘n brugbouer. Hiervan was sy goeie verhouding met die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurder, adv Thys Gilliomee ‘n getuigskrif.
Al het hy sterk standpunte gestel en dit verdedig, het hy ook nie geskroom om kompromieë aan te gaan indien dit tot voordeel van diegene na aan sy hart, die agtergblewenes sou strek nie.
“Kameraad Jovan se afsterwe laat ‘n groot leemte in die ANC, die gemeenskap van Mosselbaai, veral Wyke 9 en 13, asook die Victor Molosi-streek. Hy laat ‘n paar groot stewels agter en ons as ANC-lede het waardering vir die opofferinge vir ons gemaak het. Ons wat agterbly, moet die hand aan die ploeg slaan, ‘n blaadjie neem uit Kameraad Jovan se boekie neem en let op die boodskap op sy antwoordmasjien: ‘Now is the time’. Hamba Kahle Kameraad Jovan Bruinders, Rus in vrede.”
Familie onthou
Melly vertel hoe ‘n pynlik netjiese man haar Jovan was. Nie net op sy persoon nie, maar ook in die huis. “Hy was glo van kleins af so. Alles moes netjies gestryk wees en die skoene moes blink.”
Jovan se broer Christiaan sê dat hy hom die meeste as vriend en gesinsman sal mis. Van Jovan se tantes het ook aan hom hulde gebring. “Hy het ‘n mooi karakter teenoor sy familie en ‘n uitstaande beeld teenoor die gemeenskap getoon,” sê Nerina Jacobs. Ilene Bruinders onthou sy besonderse gesindheid en respek teenoor ander.
“Ek gaan hom só mis. Ek kon maar net die foon optel en hy was daar vir my.”
Jovan word oorleef deur sy vrou, Marion, sy kinders, Tavin, Kirsty en Zoë, asook sy ma, Ann Bruinders en drie broers, Sullivan, Christiaan en Quintin.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'