MOSSELBAAI NUUS - Sommige gemeenskapveiligheidsorganisasies het onlangs hul kommer uitgespreek oor tolkdienste by die Mosselbaai-landdroshof.
Lede van die Hersham-buurtwag, Outeniqualand-plaaswag asook die Hersham eienaars- en inwonersvereniging sê hulle is bekommerd oor die sloer van sake in dié hof asook die rimpeleffek wat dit op klaers/getuies het wat hofsake moet bywoon.
Die lede het in 'n onderhoud met Mossel Bay Advertiser een spesifieke saak as voorbeeld gebruik, maar sê dit is slegs een van baie.
Hulle was verlede week Dinsdag weer in die landdroshof vir dié saak wat hulle al sedert 2023 volg.
Vier Malawiese burgers is in Oktober 2023 in hegtenis geneem - daar is drie sake vir huisbraak en een vir besit van gesteelde goedere teen hulle.
Die beskuldigdes is borg geweier, omdat hulle onwettige immigrante is. Hulle het egter sedert hul inhegtenisname al sowat 14 keer in die hof verskyn en het tot op hede nog nie op die aanklagte teen hulle gepleit nie.
Uitstel na uitstel
Een van die bekommerde lede is Dewald de Kock, voorsitter van die Outeniqualand-plaaswag en ook 'n lid van die Groot-Brakrivier GPF. Hy sê dit is uitstel na uitstel en een van die redes hiervoor is omdat daar al talle kere nie tolke beskikbaar was tydens die beskuldigdes se verskynings nie.
De Kock sê toe hulle die vorige verskyning bygewoon het, moes die hoof van die tolke op Mosselbaai asook die hofbestuurder onder eed getuig dat daar 'n kwessie met die tolke is, glo weens die feit dat hulle nie betaling ontvang nie.
Die buurtwag, plaaswag en die eienaars- en inwonersvereniging sê hulle kon tot dusver in hierdie spesifieke saak die klaers bystaan en aanmoedig om by die verskynings te wees, maar wonder wat van klaers word wat nie daardie ondersteuning het nie.
Hulle is bekommerd dat gevalle soos hierdie sal veroorsaak dat klaers maar eerder net moed opgee en 'n saak laat vaar. Of, sommer uit die staanspoor nie eers 'n saak by die polisie wil aanmeld nie, want hulle het eenvoudig nie vertroue in die sisteem nie.
Die Advertiser het 'n navraag aan die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling gerig oor die beweerde kwessies met tolke asook die prosedures in plek om hul beskikbaarheid te verseker.
Die departement sê daar is drie tolke vir vreemde/buitelandse tale by hierdie spesifieke saak betrokke. Dié tolke en geleentheidstolke is nie werknemers van die departement nie en word verkry soos nodig. Die department het verder uitgebrei oor die eise vir betaling wat hierdie drie tolke oor die afgelope tyd ingedien het:
Tolk 1:
• Die tolk werk op Mosselbaai en ook sewe ander Tuinroete-kantore. Sedert 16 Maart 2023 het die tolk 78 eise ingedien, waarvan 74 al verwerk en betaal is. Die vier uitstaande eise is na onderskeie kantore (nie Mosselbaai) terugverwys vir nie-nakoming kwessies en moet weer ingedien word sodat dit verwerk kan word.
• Die tolk het 19 eise vir Mosselbaai ingedien waarvan 18 reeds betaal is. Die uitstaande eis is gedurende die eerste week van Maart ontvang en indien dit voldoen aan al die nodige vereistes, sal dit binne die 30-dae ommekeer betaal word.
Tolk 2:
• Die tolk werk op Mosselbaai en ook sewe ander Tuinroete-kantore. Die finansiesafdeling het sedert Oktober 2024 uurlikse eise vir dié tolke begin verwerk – 11 eise is ontvang (nie vir Mosselbaai), waarvan ses verwerk is. Vyf sal voor die einde van Maart verwerk word (steeds binne die 30 dae periode).
• Die hofbestuurder het gehelp om ‘n lys van eise deur te stuur wat by die provinsiale kantoor ingedien is. Daar was IT-kwessies en nie almal is ontvang nie. Die hofbestuurder sal weer hierdie eise aanstuur sodat dit dadelik verwerk kan word.
Tolk 3:
• Die tolk lewer meestal op Mosselbaai diens. Slegs twee ander eise is vir elders op die Tuinroete ontvang. Sedert Desember 2023 is 43 eise ontvang, waarvan 38 verwerk is. Vier is na die kantoor teruggestuur om nakoming van vereistes te verseker voor dit verwerk kan word.
Gevra of enige bestaande tolkkwessies intussen opgelos is, het die departement gesê, ja, die streek het nou hierdie tipe tolke op PERSAL (‘n personeel- en salarisadministrasiesisteem deur die staat gebruik) geregistreer. Hulle word dan deur ‘n sentrale besprekingsisteem bespreek.
“Hierdie is kontrole maatreëls om te verseker dat die bostaande onreëlmatighede tot ‘n minimum beperk word. Ons het tans 54 vreemde/buitelandse taal-tolke op ons databasis geregistreer met verskeie tale. Ons ontvang ook ondersteuning van ambassades en naburige provinsies,” sê die departement.
Daar word deurlopend opleiding aan kantore gegee om te verseker die voltooiing en indiening van eise is korrek. Om te verseker dat tolke beskikbaar is wanneer nodig, sê die departement die hofbestuur maak seker hulle bespreek betyds en handhaaf konstante kommunikasie.
Geleentheidstolke
Advokaat Christhénus van der Vijver, wat tot met sy aftrede 'n senior staatsadvokaat in die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings in Kaapstad was, is ook genader vir kommentaar.
Hy het daarop gewys dat die tolke wat voltyds in diens van die departement van justisie is, gewoonlik net tolk in Engels, Afrikaans en een of twee ander Afrika-tale. As tolke benodig word vir ander tale, word daar gebruik gemaak van geleentheidstolke vir die spesifieke taal van die beskuldigdes.
Hierdie tolke is nie altyd geredelik beskikbaar nie omdat hulle ook ander verpligtinge het en gevolglik word sulke sake soms vertraag.
Van der Vijver sê alhoewel dit baie moeilik is om te bewys, kan beskuldigdes ook die taal probleem as 'n vertragingstaktiek gebruik. Hy verduidelik dat indien 'n saak telkens uitgestel moet word omdat 'n tolk vir 'n besonderse dialek nie gevind kan word nie, sal die hof mettertyd die saak van die rol verwyder aangesien 'n beskuldigde die reg op 'n spoedige verhoor het.
Hy voeg by dat hy in sy loopbaan gesien het hoe gemaklik sulke beskuldigdes met die regsverteenwoordiger buite die hof kommunikeer. "Dit bly egter 'n beskuldigde se reg om in die taal van sy keuse verhoor te word en dus moet die Staat moeite doen om te sorg dat reg en geregtigheid in alle sake geskied."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’