MOSSELBAAI NUUS - Hofsake in Mosselbaai se landdros- en streekshowe is steeds op die rol, maar publieke toegang tot die howe word weens die Covid-19-pandemie beperk.
Hoofregter Mogoeng Mogoeng het verlede week aangekondig dat alle howe in die land publieke toegang tot die hofverrigtinge sal beperk.
Voortaan sal net mense wat regstreeks by 'n saak betrokke is in die hofsaal toegelaat word.
Dit sluit in die hofamptenare, regspan, die beskuldigde, getuies en die familie.
Die aankondiging deur Mogoeng het egter nie verhoed dat die plaaslike hof se gange buite die howe steeds volgesit word nie.
Intussen is 'n hoë profiel hofsaak in die rondgaande hooggeregshof wat verband hou met die moord op Heila Kilian (63) op 'n plaas buite Stilbaai, en waarby vyf verdagtes betrek word, voorlopig uitgestel na 15 April. Die Staat roep steeds 'n lys van getuies en Kilian se suster, Brenda, en haar man, David, wat tydens die skietvoorval op Kilian aangeval is, het reeds getuig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'