MOSSELBAAI NUUS - Grusame getuienis van hoe 'n weerlose slagoffer, ná sy na bewering vasgebind en verskeie kere langs die N2 in die Glentana-omgewing verkrag is, is in die Mosselbaai-streekhof afgelê.
Die hof het ook 'n ondersoek ter plaatse gedoen. Streekhoflanddros Neels Nortjé is die voorsittende beampte, met Corné Pretorius as staatsaanklaer.
Die beskuldigde, Leon van Rooi (39) het uitdrukkingloos voor hom uitgestaar toe 'n vragmotorbestuurder, Shaun Perish op Vrydag, 8 Maart getuig het hoe hy omstreeks 12:30 die oggend van 29 Augustus 2017 op die grutoneel afgekom het. "My vragmotor se ligte het op iets langs die pad geskyn wat vir my soos 'n klein blondekop dogtertjie gelyk het." Perish het getuig dat hy by die Glentana-afrit omgedraai en na die toneel teruggery het.
Dis tóé dat hy op 'n 44-jarige vrou afgekom het wat half naak en met haar voete en hande vasgebind, tussen die geelstreep en die gras gesit het na 'n beweerde nag van hel.
Saamrygeleentheid
Volgens die ondersoekbeampte, sers Soretha van Zyl van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe op Mosselbaai se getuienis asook die klagstaat, is die bewering dat Van Rooi die aand van 28 Augustus die klaagster by 'n vulstasie in Heatherpark, George, vir 'n saamrygeleentheid gevra het.
Getuienis wil dit hê dat die klaagster aangevoer het dat sy nooit iemand 'n saamrygeleentheid gee nie, máár dat Van Rooi voorgekom het as iemand wat vertrou kan word.
Van Zyl het aan die hof voorgehou dat Van Rooi aan die klaagster sou gesê het, "die mense gaan snaaks dink as 'n bruin man dié tyd van die aand 'n passasier by 'n wit vrou is". Hy sou toe voorgestel het dat hý eerder bestuur.
Volgens Van Zyl se getuienis het Van Rooi by die Pacaltsdorp-afrit na die N2 'n mes uitgehaal en in die rigting van Mosselbaai gery. Hy het die klaagster na bewering aangerand en agter in die motor se kattebak gegooi.
Verkragting
Die nagmerrierit sou volgens getuienis naby Glentana eindig, waarna Van Rooi haar drie keer sou verkrag het en aan 'n boom vasgebind het.
Perish het getuig dat hy haar langs die pad gevind, losgemaak en in sy vragmotor laat sit het. "Sy was baie angsbevange en bewerig. Toe ek haar haar vra wat is fout, het sy gesê sy is verkrag."
Sy getuienis lei verder dat die klaagster aan hom gesê het "hy het my motor geneem en gesê hy gaan sy vriende haal, want hulle sal my ook graag wil ontmoet".
Toe Van Rooi wegry het sy losgebreek van die boom, maar kon haarself nie van die ander toue bevry nie. Sy sou aan Perish gesê het dat sy tot langs die pad aangesukkel het om hulp te soek. Perish het onmiddellik die polisie in kennis gestel.
Van Rooi het reeds skuldig gepleit op klagtes van motordiefstal en meineed. Die staat lewer nou getuienis oor die beweerde verkragtings.
Die verhoor is tot Maandag, 24 Junie uitgestel vir mediese getuienis. Van Rooi bly in aanhouding.
Sersant Soretha van Zyl wys die toneel uit waar die klaagster na bewering verkrag is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'