GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die tweede Grootbrak Boekeblaf lees- en skrywersfees het vanjaar met mening teruggekeer, sê die organiseerders, en beplanning vir volgende jaar is reeds aan die gang!
“Die feesgangers was gaande oor die verskeidenheid gesprekke, boeke en skrywers en Grootbrakstories is veral geloof vir die outentieke kontreiverhale wat saam met hartsmusiek aangebied is,” sê Sidney Gilroy, een van die fees se organiseerders.
Gilroy sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning van plaaslike lesers, musiekliefhebbers, die ATKV en Mosselbaai-munisipaliteit, sonder wie die fees nie moontlik sou wees nie. “Gesprekke is goed bygewoon en veral die Saterdagaandkonsert het groot aftrek geniet.”
Dit was vanjaar ook die eerste keer wat die Boekeblaf-skryfkompetisie vir laerskoolleerders aangebied is. Volgens Gilroy is inskrywings van regoor die Mosselbaai-area ontvang.
Henrilene Botha van Groot-Brakrivier Primêre Skool het die eerste plek gewen met haar skryfstuk, “Vriendskap is goud werd”. Hanroux Mocke van Laerskool Hartenbos was tweede met ’n resensie oor Ben en die groot wedstryd deur Zuléka Smit en Laerskool Vorentoe se Daniël Barnard was derde met sy stuk, “Horings”.
Dr. Allen Grootboom en Daniël Lötter gesels oor Waar die vuur huil. Foto: Verskaf
Julio Agrella en Chanette Paul gesels oor Zeus van Wyngaardt en die labrinte van monsters. Foto: Verskaf
Stef Kruger en Riku Lätti gesels oor Ontrafel, Kruger se debuutdigbundel. Foto: Verskaf
Hannes Visser en Daniël Lötter gesels oor Tussen asem. Foto: Verskaf
Erla Diedericks en Sidney Gilroy gesels oor Jagspinnekop. Foto: Linzetta Calitz
“Vir 2027 word die fees rondom die eerste naweek van November alreeds beplan. Ons sien uit na ’n volgepakte program van plaaslike skrywers, die nuutste Afrikaanse boeke en die beste plaaslike musiektalent,” sê Gilroy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’