GROOT-BRAKRIVIER NUUS - “Hoe lank is ek al by Groot-Brakrivier Sekondêre Skool?” vra Gaynor Treurnicht (62) die vraag nadenkend terug. “’n Leeftyd... meer as 40 jaar al. Ek het hier begin skoolhou, en hier gaan ek aftree.”
Treurnicht, sedert Januarie die waarnemende hoof by dié skool, sê maatskaplike werk is eintlik wat sy aanvanklik as beroep in gedagte gehad het, maar sy is nie een oomblik spyt dat sy ’n onderwyser geword het nie. Die twee beroepe is toe in elk geval heel soortgelyk!
Sy het self as kind in Groot-Brak grootgeword, vertel sy. “Eers in Mossienes, daarna op Die Heuwel gebly en later na Greenhaven se gedeelte getrek.”
Haar skoolloopbaan was dus eers Groot-Brak Primêr, toe George Hoërskool en toe die Universiteit van Wes-Kaapland, waarna sy in 1985 haar reis by Groot-Brak Sekondêr begin het. Daarna was daar ook nagraadse studies aan Unisa en die destydse Universiteit van Port Elizabeth.
Vier dekades
Die meer as vier dekades by haar skool beteken natuurlik sy het vir baie van haar huidige leerders se ouers óók skoolgehou.
“Groot-Brakrivier se mense het ’n vriendelikheid en ’n gasvryheid en ’n verstaan van waar ons almal vandaan kom, veral wanneer hulle by die skool kom. Ons verstaan die mense en die omgewing.”
Of dit nou destyds se tieners of vandag s’n is, sê sy haar gunstelingdeel van die beroep is die feit dat die leerders nooit dieselfde is nie.
“Die een dag kan jy met hulle toor en die volgende dag is hulle bot. Dit is wat dit interessant maak, en daarom is dit belangrik dat ’n mens seker ’n leerder moet kan lees,” reken sy.
Die klaskamer
In 1995 word sy departementshoof, ná Covid-tyd begin sy as adjunkhoof waarneem en word toe later permanent in dié pos aangestel. Maar ’n “gewone onderwyser” met haar eie klaskamer is sy nog omtrent al hierdie jare.
“Ek het altyd vir my leerders gesê, my klaskamer is, soos ons sê, my happy place. Dis die plek waar ek op my gelukkigste is en dit is iets wat ek in my rol as hoof verskriklik mis.”
As hoof lyk die dag-tot-dag anders, maar wat ook al eerste op die skedule is, die dag moet met God begin, sê sy.
“Die een oomblik is jy besig met ’n leerder, dan is daar die onderwysers wat jy nog steeds moet onthou - hulle is ook mense en daar moet na hulle welstand ook gekyk word. Selfs in die hantering van probleme met leerders, sodat niemand voel hulle word uitgesluit nie.
Spanwerk
“Deelnemende besluitneming is baie, baie belangrik. Dis belangrik dat jou span saam met jou werk, en dit gaan jy alleenlik regkry as die besluite saam geneem word tot voordeel van die leerder. Op die ou einde staan die leerder sentraal tot alles wat ons doen.”
Een van die uitdagings wat sy uitlig het ook betrekking tot die leerder. “Die verandering in die dissipline is duidelik waarneembaar, veral omdat ek so lank al in die onderwys is,” sê sy.
Maar daarmee saam sê sy sy probeer om nie gister se bagasie na vandag oor te bring nie.
Omstandighede
Saam met hierdie “verstaan” wat sy en die skool van die mense van Groot-Brak het, kom daar ook die wete dat daar baie armoede en misdaad in die dorp is, iets wat maar na die skool toe oorspoel. “Maar gelukkig kan ons die situasies hier hanteer, en ons is bevoorreg om baie ondersteuningstrukture te hê, veral ons geloofsleiers wat baie by ons skool betrokke is.”
Sy sê as skool is dit belangrik dat hulle die leerders in hulself laat glo - “dat hulle instaat is tot baie en dat hulle selfgedissiplineerd moet wees, omdat daar ná skool niemand gaan wees wat agter hulle staan nie.
“Baie van ons leerders kom uit moeilike omstandighede, en dit maak dit ook moeilik om hulle op die ou einde te motiveer en ’n toekomsvisie te gee, maar indien jy dit regkry is dit vir my een van die grootste suksesverhale.
“Veral in my werk as hoof hierdie jaar was dit nodig om die leerders gedurig te motiveer om vol te hou, om nie op te gee nie, al gaan dit moeilik, want in die toekoms sal dit beter gaan indien hulle matriek slaag.
Rolmodelle
“Dis baie belangrik dat leerders eerstens begin om respek vir hulself te hê, want as hulle respek vir hulself het, sal hulle respek vir die opvoeders en vir hulle ouers hê.”
Van haar eie laerskoolonderwysers, sê sy, is juis mense wat sy as rolmodelle in haar lewe beskou. Mnre. Edjohn Frans en Willem Pick en veral haar gr. 3-onderwyser, Katy Juries, het ’n blywende impak op haar lewe gehad.
En natuurlik haar ouers. Húlle was onder meer albei groot lesers, ’n liefde wat hulle by haar ook geplant het.
Wanneer sy wel tyd vir haarself in die besige skedule van ’n hoof vind, is lees en musiek luister twee dinge wat sy geniet.
“Dan het ek ook redelik vroeg in my lewe besef ek moet al beginne reis, sodat ek nie wag tot ek die dag aftree om dit te doen nie. So vir my is dit belangrik om die oomblik aan te gryp en te doen wat ek nou al kan doen, veral as ek tyd beskikbaar het.”
Gelukkig begin die skoolvakansie binnekort, dan is daar genoeg tyd vir dinge soos uitgaan en uiteet en tyd saam met familie en vriende, sê sy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’