GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Op Vrydag 8 Augustus het Groenkloof Groot-Brakrivier sy 20ste bestaansjaar feestelik gevier.
'n Hoogtepunt was die oorhandiging van 'n oorkonde oor die oorsprong van die naam Groenkloof aan die huiseienaarsvereniging.
Min mense weet dat die naam spruit uit die groot strandveldbos wat steeds met sorg bewaar word.
Twee dekades ná die eerste sooi in 2005 gespit is, het Groenkloof gegroei van 'n enkele aftreeoord tot 'n netwerk van sewe lewenskragtige gemeenskappe met Groenkloof Seesig wat in September as die agtste oord afskop.
Die voorsitter van die huiseienaars-vereniging, Karel Hancke, het mylpale onthou soos die eerste huise wat in 2005 oorhandig is, terwyl Pieter le Roux die gaste vermaak het met staaltjies uit die verlede.
Hulle het die gemeenskapsgees en goeie bestuur as die kern van Groenkloof se sukses beklemtoon.
Ontwikkelaar Jan Pienaar, het die inwoners bedank vir hul lojale ondersteuning en die huiseienaarsvereniging vir toegewyde bestuur.
Die vieringe is afgesluit met 'n boomplant-seremonie deur Monica Garner (99), een van die oudste en eerste inwoners. 'n Kaapse mahonieboom is geplant as simbool van dankbaarheid en vertroue in die toekoms.
Mosselbaai-burgemeester Dirk Kotzé en Jan Pienaar, ontwikkelaar van die Groenkloof-oorde.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’