BLOG - Ek het nie baie vriende nie, maar ek lê nie wakker daaroor nie. Kwaliteit weeg nog altyd vir my swaarder as kwantiteit. Tydens die grendeltyd was dit ‘n reddingsboei toe ons sosiale interaksie so fisiek aan bande gelê is.
Ek glo ook dat van die mees vervullende konneksies tussen mense soms eensklaps ontstaan.
Dis soos die spulletjie wat ek in Annelie Botes se voorhuis ontmoet het. Noord-Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap en Gauteng, had ons darem een ding gemeen – ‘n droom om te skryf.
Nou kyk, as jy rondom die Kamanassiekind se tafel wil sit, moet jy nie kleinserig wees nie. Vra maar elkeen wat al onder haar hande deur is weet, ‘n eerliker leermeester gaan jy ver soek. Sy spaar die roede nie. Dis goed én bybels so, want geen mens wil hê jou skryfdroom moet in ‘n openbare nagmerrie van bespotting ontaard nie.
Daar sit ons toe - Brandvlei, Pretoria, Hofmeyr en Mosselbaai, die een meer skrikkerig as die ander. Brandvlei het die baan geopen met ‘n bakkie skuinskoek uit die Boesmanland en kort voor lank ontdek ons ‘n hele paar raakpunte.
Soos dat Pretoria se oupa, predikant op Williston waar my mense vandaan kom, was. En Williston is mos ‘n buurdorp van Brandvlei. Boonop ontdek ek en Hofmeyr dat ons albei vir koerante ook nog skryf. En daar, nét daar, is ons almal dikke vrinne.
Drie dae lank skater, snik en bloos ons tesame aan die voete van Gamaliël Botes. Ons doop ons skuinskoek in ons koffie, eet van Annelie se soet skrywerstert en lees tussen die lyne van mekaar se geselsies. Natuurlik word daar ‘n WhatsApp-groepie gestig – sommer net vir die deel van die paar foto’s wat ons geneem het. Daarna gaan elkeen op sy weg deur die wêreld sonder dat ons dadelik besef hoe vervleg ons geraak het.
Bykans twee jaar later bestaan die WhatsApp-groepie steeds. Dalk juis omdat almal die ongeskrewe reël van kwaliteit bo kwantiteit in hul harte dra. Die slag as daar wel iets gedeel word uit dié vier windrigtings, is dit gewoonlik iets met gravitas.
Veral hier in die grendeltyd was van die gedeelde gedagtes soos spreekwoordelike manna in ‘n woestyn of liewer ‘n wildernis van WhatsApp-boodskappe wat ‘n mens se wêreld later begin besoedel het.
My gunsteling grendelgedagtes was Pretoria, Brandvlei en Hofmeyr se stories oor toe die land van vlak 4 na vlak 3 van die nasionale inperking skuif.
Pretoria vertel dat hy en sy vrou vir die eerste keer in hul dekades van getroude lewe só lank in mekaar se geselskap was. Sy aanvanklike benoudheid ten spyt, was hy aangenaam verras oor hoe baie hulle dit geniet het. En sy hart is nou rustig oor die aftrede wat voorlê.
Brandvlei, wat bitter afgesonder leef, vertel van haar eerste trippie dorp toe in meer as 140 dae. Sy moes ‘n plaaswerker kliniek toe te neem. Eerstens had sy nie ‘n masker nie en bedink toe ‘n uitrusting soos ‘n Bedoeïn. Die aand voor die reis, vertel sy, is sy so opgewonde dat sy nie kon slaap nie. Maar die beste uit die vertelling is hoe sy toe onderweg dorp toe, wonder of sy nog in staat sou wees om in strate tussen ander voertuie te kon bestuur.
Maar die topverhaal is Hofmeyr s’n. Self op ‘n afgeleë plaas, was hulle die ganse grendeltyd goed van die gevreesde koronavirus geïsoleer. Al wat hulle bereik het, was nuusberigte van hoe dit elders in die Oos-Kaap daar uitsien. Maar ‘n mens is tog nie ‘n eiland nie en soos die inperkinsregulasies verslap word, raak ‘n man mos lus vir ‘n kuiertjie.
Op ‘n goeie dag, knap voor die naweek toe die kuierplanne al sterk staan, raak ‘n vragmotor naby Hofmeyr se plaas onklaar. Met húlle plaas se mense naaste aan die pad om te kan gaan help, is daar spoedig ‘n klomp hande. Boonop was daar mos lanklaas ‘n bietjie aksie in die omte.
Toe die vragmotor egter weer op sy weg is, kom die spulletjie bedroë tuis, vertel Hofmeyr. Van die kuierplanne is daar skielik geen verdere sprake nie. Kyk, daar is min dinge wat ‘n mens so vinnig koudsit soos ‘n vragmotor met ‘n besending doodskiste. Dié was hoeka ter voorbereiding van verwagte Covid-19 verwante sterftes in die Oos-Kaap.
Die gevolg hiervan is dat Jan Tuisbly se karretjie toe maar die voorkeurvorm van vervoer blyk te gewees het. Selfs al was die taxi's op 100% kapasiteit.
Soos my pa sou sê, circumstances alter cases. Daar’s nou vir jou ‘n grendelgedagte. Dít, en hou maar jou kringetjie klein – kwaliteitshalwe.
* Titel met dank aan Hofmeyr.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'