MOSSELBAAI NUUS - Huldeblyke het van oraloor ingestroom na die onverwagte afsterwe van Mosselbaaise sakeman en ou-polisielid, Morné van der Heyde (46) wat Dinsdag, 12 Januarie in die Life Bayview privaat hospitaal aan natuurlike oorsake oorlede is.
Dit is bekend dat Van der Heyde die Covid-19-virus opgedoen het en daarvoor gehospitaliseer is, maar hy was ten tye van sy afsterwe, virusvry.
Van der Heyde het ongeveer vier jaar gelede die polisiediens verlaat nadat hy 23 jaar verbonde aan die Da Gamaskop-polisiestasie was, en homself as sakeman onderskei.
Hy was betrokke by Cattle Baron, Hi-Q, Supa Quick en die gewilde wegneemete-landmerk, Dolphin Café in Blandstraat. "Hy was 'n uithaler-sakeman, maar ten spyte hiervan het hy gelééf vir sy gemeenskap. Die dorp het een van sy engele verloor," het sy pa, Leon vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Dít blyk duidelik uit die oorvloed reaksie op Van der Heyde se dood. "Ons het honderde boodskappe van medelye van oraloor ontvang," verduidelik Van der Heyde.
Boodskappe het volgens Van der Heyde van alle vlakke van die samelewing ingestroom. "Of dit nou 'n ruitwasser of 'n bestuurder is, hy het vir almal tyd gehad."
'n Goeie vriendin van die gesin, Antoinette Snyders beaam dit. "Hy was 'n engel en soos ek altyd gespot het – hy het die hart van 'n taxi gehad, altyd plek vir nóg een."
Morné van der Heyde laat sy vrou, Cecilia en kinders Marcel, Celné en Marno, asook sy ouers, Leon en Elize en broer, Riaan agter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'