MOSSELBAAI NUUS - Staatsadvokaat Lenro Badenhorst het sopas die eerste getuie in die Hooggeregshofsaak van die verdagte wat as die meesterbrein op die moord van Tewie en Eurika Human verdink word na die getuiebank geroep.
Die 27-jarige Stephen (Lebohang) Lekoro het kort na die moord op die 72-jarige Tewie en 62-jarige Eurika Human drie jaar gelede na Lesotho gevlug.
Tewie is verskeie kere met ‘n panga aangerand en Eurika is met ‘n mes gesteek. Die egpaar se liggame is dae later gevind. Eurika het op die egpaar se bed gelê en Tewie se liggaam is in die motorhuis gevind.
Lekoro het vir die Humans by hulle huis in Sandhoogtepad gewerk.
Hy het vanoggend onskuldig gepleit op al vier aanklagte teen hom. Lekoro staar twee aanklagte van moord en twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede in die gesig.
Lekoro het in ‘n pleitverduideliking wat deur sy regsverteenwoordiger, Adv Dawie Scholtz aan Regter Mark Sher voorgelees is, gesê dat hy wel tydens die oggend van die moord by die Humans se woning was, maar dat hy ‘n vriend van hom, die 27-jarige Thamsanqa Sishuba wat tans twee lewenslange vonnisse uitdien vir sy aandeel in die moord op die Humans soontoe geneem het om werk vir Tewie te doen.
Lekoro pak die blaam op Sishuba en beweer dat Tewie hom (Lekoro) met die vuis geslaan het nadat hy na bewering die verkeerde tipe olie in ‘n masjien gegooi het en Tewie hom glo vererg het. Lekoro beweer dat hy geskrik het op die ingewing van die oomblik ‘n mes wat op die werktafel was gegryp het en Tewie daarmee gesteek het. Hy beweer dat Sishuba toe vir Tewie met ‘n panga aangeval het waarna hy (Lekoro) weggehardloop het.
Hy het volgens sy pleitverduideling op die vlug geslaan omdat hy geweet het hy is in die moeilikheid maar ontken dat hy enigsins iets verder van die dubbelmoord en roof weet.
Die eerste getuie is ‘n goeie vriendin van die Humans, Doretha Wilson. Wilson was die eerste persoon wat op die moordtoneel afgekom het nadat sy oor die Humans bekommerd geraak het en het Eurika se liggaam vanuit die buitekant van die kamervenster op die bed sien lê.
Lees vorige artikels:
- Verhoor van dubbelmoordverdagte begin
- Double murder accused back in court
- Voortvlugtige moordverdagte vasgetrek
- Vermeende 'meesterbrein' vas na 2 jaar
- Groot-Brakrivier moordenaar in hegtenis
- Groot-Brak moordenaar swaar gevonnis
- Double murder: man found guilty
- Verdagte getuig vandag
- Eurika Human vermoedelik dadelik dood
- Human-moorde: verdagte pleit onskuldig
- Human-moorde: hofverrigtinge 'emosioneel'
- Groot-brak dubbele moord: familie by hof
- Dubbele moord: verdagte vandag in hof
- Groot-Brak-moorde: saak uitgestel
- Gru-moorde: Man in hof vir borgaansoek
- Opvolg: Verdagte in hof vir gru-moorde
- Groot-Brak gru-moorde: Verdagte in hof
- Verdagte vir Groot-Brak-egpaar se moord aangekla
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'