BLOG - Daar was ‘n tyd wat ek belangrike geleenthede by my laat verbygaan het. Soos begrafnisse.
Dis nie dat ek dit doelbewus vermy het nie. Daar was net altyd iets in my daaglikse handel en wandel belangriker om te doen.
Maar ek is nie nou meer so nie. Ek het ‘n nuwe agting gekry vir die betekenisvolheid van die laaste groet.
Vroeg in grendeltyd bel my ma een namiddag. Ek antwoord. Sy praat nie. Sy snik net.
Toe sy eindelik die woorde uitkry, is dit soos met die oordra van alle slegte nuus. In jou gemoed, asook op jou tong, is daar net vir die noodsaaklikste plek. Ek simpatiseer lomp per WhatsApp met die goeie vriendin se dogter. Die stemnota neem ek verskeie kere op, gedagtig daaraan dat ons ma’s amper ewe oud is.
Die volgende dag antwoord sy: “Sal jy begrafnis toe kom? Jou ouers kom ook. Ons mag net 50 wees. Ons moet ‘n presensielys hê en als.” Ineens is ek meer onthuts as hartseer.
Tannie Buks was bekend én geliefd. Net 50?
“Natuurlik is ek daar.” Eers later dink ek oor hoe vreemd dit is om ‘n begrafnis op uitnodiging by te woon. Dis ‘n voorreg gereserveer vir troues.
Van my grootste vrese toe die inperking begin het, was dat iemand ná aan my wat vér woon, sou doodgaan. Nou nog hoor ons die smartlike verhale van mense wat in die ongenaakbare vlak 5 en toe ook vlak 4 nie ‘n sterwende geliefde kon groet of die laaste eer kon gaan betoon nie.
Wat ek nog die heeltyd wonder sedert Covid-19 die wêreld kom skaak het, is waar die mensdom met al hulle onverwerkte rou gaan heengaan? Ek dink aan Italië met sy vurige families en die veelvoud mense wat dáár dood is sonder dat kind of kraai wenend langs ‘n graf kon staan.
Die dag toe ons my vriendin se ma begrawe, was die koronavirusbesete wêreld nog ‘n nuutjie en vreemd. Die diens sou sommer so rondom die graf gebeur - soos in die ou dae toe mense nog meestal op plase gebly en familiekerkhowe gehad het.
‘n Halfuur voor die begrafnis, maak die hemele oop met swaar reën. Ek kry amper koue voete, maar nes asof die hemel gereed maak om Tannie Buks te ontvang, trek die wolke soos ‘n gordyn oop en die son gooi enkele, slap strale soos verwelkomende arms oor die begraafplaas.
Die roubeklaers daag op. Dis ongemaklik. Mens wil-wil iemand ‘n vertroostende drukkie gee of ten minste bemoedigend aan ‘n arm raak, maar niemand doen dit nie. Ons staan onordelik om die graf. Party van die oueres wat nie die uur wat ons toegelaat word, sal kan bly staan nie, word ‘n sitplekkie aangebied. My ouers lyk skielik oud toe hulle onder die pers gazebo inskuif.
Die predikant doen sy ding. Iemand hou ‘n selfoon omhoog sodat die broer wat in Nieu-Seeland woon kan volg. Die ondernemer kyk kort-kort op sy horlosie. Die toegelate uur, wat die toegooi van die graf moet insluit, is amper om. Ons staan nader om blomme op die kis te sit. Die kis begin sak. Iemand troos die broer in Nieu-Seeland toe hy hoorbaar snik.
Eers krimp die familie ineen. En toe begin hulle meganies die graf toegooi - soos in die ou dae toe mense nog meestal op plase gebly en familiekerkhowe gehad het.
Wéér staan die roubeklaers rond, asof hulle nie regtig weet wat hulle getref het en waarheen nou nie. Álles omtrent die ervaring is vreemd. Daar is nie tee en begrafnisbroodjies waartydens ‘n laaste paar staaltjies ter nagedagtenis vertel word of ‘n lukrake ontdekking van ‘n verlangse familiekonneksie gemaak word nie.
My eksentrieke vriendin in Melville het altyd ‘n ekstra plek aan die tafel gedek. Sy’t gesê, dis vir ‘n ongenooide gas, want dis so ‘n verleentheid as iemand onverwags opdaag met ‘n gevolglike geskarrel wat iemand onwelkom laat voel
In die woorde van Paul Borget, die Franse skrywer, is die dood, van alle besoekers die mees aangekondigde en die mins verwagte.
Soos ‘n ongenooide gas. Maar ek was genooi, een van die uitgesoekte 50. En in die vervolg, wanneer daar nie weer ‘n VIP-lysie vir begrafnisse gaan wees nie, mis ek dit vir niks. Want om net weer normaal te kan gaan rou oor ‘n betekenisvolle ander, is ‘n voorreg bo voorregte wat nooit weer te versmaai sal wees nie.