Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Sy was 20 weke swanger toe die sonar wys daar is fout met haar baba. Háár baba sou volgens statistiek een uit 700 wees wat met ‘n gesplete lip en verhemelte gebore word.
Anika Koekemoer se seuntjie Dian het op Mandeladag sy eerste verjaarsdag gevier en het tot dusver al sy ontwikkelingsmylpale met groot sukses behaal.
‘n Donker tyd
Aanvanklik was die nuus vir haar ‘n groot skok omdat sy haar op totaal onbekende terrein begeef het. “‘n Mens besef skielik hoe min jy weet. Jy weet jy het êrens van so iets gelees, maar dis al.”
Die kommer oor haar baba se toekoms en hoe om dit te hanteer, was groot. “Mens worry oor alles. Gaan daar ander gebreke wees? Oor die operasies. Hoe gaan ‘n mens dit finansieel kan bybring? En omdat jy enigiets vir jou kind sal doen, wonder jy waar jy die geld gaan kry om vir alles te betaal.”
Haar familie was in hierdie donker tyd haar anker. Sy het ook by verskeie groepe op sosiale media aangesluit wat ondersteuning bied en het op die manier baie geleer oor babas wat met ‘n gesplete lip en verhemelte gebore word.
Omdat die sonar sy beperkinge het wat betref die aandui of haar baba enige verdere ontiwikkelingsprobleme sou hê, was daar opsies. In sulke gevalle, word die moontlikheid bespreek om die swangerskap te beëindig óf verdere toetse kan teen ‘n hoë koste gedoen word om die aard van ander gebreke te bepaal. Óf sy kon doodeenvoudig wag vir haar baba om gebore te word.
“Ek sou nie weet tot hy gebore is of daar enige verdere chromosomiese afwykings sou wees nie, maar vir my was daar nie ‘n kwessie hieroor nie. Ek het besluit dat die Here my met hierdie baba geseen het en dat Hý daarom my gids sal wees om hierdie baba te versorg.”
Trane van blydskap
Anika het gehuil tot Dian gebore is, maar dit was trane van blydskap. “Hy was so beautiful toe hulle hom vir my wys. Mense het gedink ek huil oor die abnormaliteit, maar ek het juis gehuil omdat hy vir my normaal was.”
Met sy geboorte, het Dian ‘n gaatjie in sy hart gehad wat intussen toegegroei het. Dit is ook eers toe dat dit aan die lig gekom het dat sy hele verhemelte ook heeltemal oop tot by sy kleintongetjie is.
Ten spyte daarvan dat hierdie babas sukkel met voeding, het Dian goed gewig opgetel totdat, soos Anika sê, hy ‘n regte pokkeltjie geword het.
“Cleft babas het spesiale bottels nodig, want hulle kan nie borsvoed nie. Dian het die bottel soos’n champ gevat,” sê sy trots. Hulle kan ook nie lê en drink nie, aangesien die vloeistof in hulle oortjies beland.
Fotogalery: Dian se glimlaggies
Operasies
Op drie maande moes hy sy eerste operasie ondergaan. Anika beskryf dit as van die moeilikste tye in haar lewe. “Ek het nie gedink dit is moontlik om soveel vertroue in mense, menende die mediese span en God te hê dat ek my kleine baba aan hulle kon toevertrou nie.”
Die operasie was etlike ure lank. “Dit was verskriklik toe hulle Dian uit teater bring, die klein babatjie op die hosptiaalbed en oral waar hulle gewerk het aan sy mondjie en oortjies, het bloed uitgekom.”
Dian was na sy operasie ‘n paar dae in die intensiewe sorgeenheid. Een van Anika se helderste herinninge was toe die verpleegpersoneel ‘n huilende Dian nie tot bedaring kon bring nie. “Eindelik het hulle my kom roep om te help. Toe ek sy naampie sê, het hy dadelik ophou huil, sy oë oopgemaak en na my gekyk. Ek sal die totale vertroue in sy ogies nooit vergeet nie.
Na sy operasie waartydens sy lippie en neusie reggemaak is, moes Dian al sy troosgoedjies soos sy bottel en fopspeen opgee as deel van sy terapeutiese pad. Hy moes ook leer om uit ‘n koppie te drink. “Hy het in sy eerste drie maande alleen, soveel dinge oorkom. Daar was baie, baie dokterafsprake. Tot balletjies is vir ‘n tyd lank ná sy operasie aan sy handjies vasgebind sodat hy nie in sy mondjie kon krap nie.” Dian is behandel deur ‘n plastiese chirurg, pediater, ortodontis en oor-, neus- en keelspesialis.
“Nou eet die mannetjie al Flings, kan jy dit glo?” lag Anika.
Sy beskryf hom as ‘n vegtertjie is. “Omdat sy verhemelte oop is, kom sy kossies soms by sy neusie uit. Dan hou hy maar net aan met eet.”
Die volgende operasie is om sy verhemelte heel te maak. Vorentoe sal daar dalk nóg operasies, veral binne sy mond en inplantings wat sy tande betref gedoen moet word. Spraakterapie is dalk ook ‘n moet.
“Vanweë Covid-19 moes ons dokterafsprake en dus ook sy chirurgie uitstel. Ek is eintlik verlig, want ek sou hom alleen moes bystaan as gevolg van die virusregulasies en sonder my familie, sou ek net nie kans gesien het nie.”
Hulp aan ander
Anika is genader sy Cleft Friends om as een van hulle sorgmammas op te tree. Sy het basiese opeiding ontvang om ander te ondersteun wat hulle ook in haar posisie bevind. “Ons werk nou saam met die Smile Foundation. Dit is vir my wonderlik om met ander te kan deel dat ek dáár was waar hulle is. Dis ‘n donker pad, maar as daardie kindjie eers gebore is, is dit die helderste lig wat jy jou kan indink.”
Sy ontken nie dat ‘n mens nie deur ‘n rouproses gaan nie. “Jy het ‘n ideaal vir jou kind en dit word van jou weggeneem. Jy is bang en onseker en dan wonder jy of jy dit gaan kan doen.”
‘n Draaipunt vir haar, was toe sy eendag met ‘n kliënt gesels. Anika was kwaad en het baie vrae gehad, “En toe sê sy vir my – ‘ moenie vra hoekom jy nie, het jy al gedink hoe spesiaal en uniek jou kind gaan wees om een uit 700 te wees wat die mooiste glimlaggie sal hê, met die durf om te sê - ek is anders?’ Haar woorde het álles vir my verander.”
Groei
Anika het op hierdie reis met Dian geleer hoe sterk ‘n mens kan wees. Ook wat haar ouer seuntjie, Llewellyn betref, was dit ‘n leerproses.
“Ons moes hom voorberei op Dian se koms. Ons het vir hom foto’s gewys en verduidelik dat sy boetie so ‘n eina sal hê wat die dokter gaan regmaak. En dit is hoe hy Dian van die begin af gesien het.” Volgens Anika is Llewellyn ‘n ware ouboet wat baie beskermend is. Sy meen ook dat dit hom op ‘n jong ouderdom geleer het dat ‘n mens nie ander se gebreke of andersheid uitwys nie.
Anika is dit eens dat ‘n postiewe benadering die deurslag gee. “Ek het Dian nog nooit weggesteek nie. Inteendeel, ek het sy gesiggie van die begin af na mense toe gedraai, hulle vrae beantwoord en vertel hoe goed hy doen.”
Ten spyte van die aanvanklike trane en die etlike uitdagings, sê Anika sal sy dit nooit anders wou hê nie. “Dian is nie meer werk as ‘n ander kind nie. Vir ons, is dit normaal.”
Sy vertel met trots en opgewondheid watter sonstraal Dian is en hoe pragtig hy ontwikkel. “Hy glimlag altyd en jy kan alles in sy oë lees. En hoe gelukkig is ek as sy mamma, dat my kindjie twee glimlaggies het – sy oopbekkie-glimlag en sy forever smile.”
Aan elke verwagtende mamma wat gekonfonteer word met slegte nuus oor haar ongebore baba, wil sy sê: “Dis natuurlik om bang en bekommerd te wees. Die Here sal jou nie iets gee as jy dit nie kan hanteer nie. Daar is altyd lig in die toneel. Kindertjies met probleme is só ‘n blessing. Weet net dit sal okay wees. Jy sál regkom. Dis jou instink.”
Hy glimlag altyd," sê Anika van Dian.
Anika en Wilhelm Koekemoer met hulle seuns, Dian en Llewellyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'