MOSSELBAAI NUUS - 'n Johannesburgse vrou, Wilma Nel, het aan die begin van Februarie op 'n Bybel van onskatbare waarde hier op Danabaai afgekom.
Haar ouers, Sakkie (op 77 oorlede) en Christa Stapelberg (81), het van 2007 tot 2018 hier gewoon voor hulle genoodsaak was om na Johannesburg te verhuis.
Sakkie is daar oorlede en Christa, wat aan Alzheimer se siekte ly, word tans deur haar dogter versorg.
Op hul onlangse vakansie op Danabaai het Nel en haar man, Kobus, by 'n tweedehandse boekwinkel in dié woondeel verbygery. Sy het vir hom gesê dit lyk na 'n oulike boekwinkeltjie en sy sal graag soontoe wil gaan. "Nie dat dit rêrig iets is wat ek aldag doen nie, maar dit was net asof iets my soontoe getrek het," het sy vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Twee dae voor hul terugkeer na Johannesburg, is sy toe daar in. "Ek gaan in en, ek weet nie, ek is net dadelik na die geestelike afdeling getrek."
Terwyl sy voor die rakke staan en na die verskillende boeke kyk, vang haar oog egter 'n blou Bybeltjie wat daar lê.
"Dis die eerste boek wat ek vat en toe ek hom oopmaak toe is my pa se naam en sy van voorin geskryf in sy eie handskrif en dit... dit tref my toe regtig in my hart."
Sy is nie seker hoe die Bybel daar beland het nie, maar sê dit is seker al 16 jaar in omgang.
Dit is egter nie waar dit stop nie. Toe sy verder blaai sien sy haar ma het hom ook gelees en die dag en datum bygeskryf wanneer sy spesifieke hoofstukke gelees het.
"Agter in die Bybel het sy hierdie spesifieke teks, wat nou vir haar seker baie moes beteken, geskryf, 1 Petrus 5 vers 7, wat sê, 'Cast all your anxiety on Him because he cares for you.'
"En ag, dit is mos maar moeilike tye... Dis 'n emosionele ervaring, want dit voel letterlik of jou pa met jou praat. En ek sê sommer PA in hoofletters, want dit is asof die Here net direk met my gepraat het."
Sy het toe natuurlik die Bybel gekoop.
"Wat so kosbaar is, is as mens na my ma se lewe kyk en hoe afhanklik sy van mense was in haar situasie, sy het nog nie een dag gebrek gehad nie, sy word vreeslik goed versorg deur ons. So daai Woord wat sy so half oor haar lewe belei het, het vir haar waarheid geword."
Nel sê 'n mens het maar vrae oor Alzheimer-pasiënte; die hoekoms en waaroms, maar sy sê ook sy het nou die geleentheid gehad om vir haar ma te kan sê hoe dié versie en die vind van hierdie Bybel mense aangeraak het.
Nel het 'n plasing oor haar vonds op die Facebook-groep Mosselbaai op sy BESTE! gedeel. Dié het meer as 2 000 reaksies gekry en meer as 200 kommentare.
"Toe ek vir haar sê toe bars sy sommer in trane uit. Nou weet 'n mens die Here kan selfs mense met Alzheimers gebruik om ander mense te bemoedig.
"Die hele ervaring was net vir my bonatuurlik. Ek is so dankbaar om vir my ma te kan sê haar lewe beteken nog steeds iets vandag."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’