Update
MOSSELBAAI NUUS - Borgtog van R10 000 is aan Robert Pace gister in die Mosselbaai-landdroshof toegestaan.
Pace word van bedrog van bykans R3 miljoen aangekla.
Meer as negentien slagoffers het aanklagte teen Pace aanhangig gemaak.
Die aanklagte hou verband met voorvalle tussen 2018 en 2024 waar Pace hom ná bewering as ‘n boukontakteur of ontwikkelaar voorgedoen het.
Polisiewoordvoerder, sers Chris Spies, sê ‘n voorlopige ondersoek dui daarop dat Pace ‘n stuk grond vir ‘n behuisingsontwikkeling op Mosselbaai geoormerk en dit op sosiale media geadverteer het.
Slagoffers het ‘n bedrag van nagenoeg R1.7 miljoen inbetaal om erwe op dié perseel te bekom.
Daar is volgens Spies later vasgestel dat die eiendom in die naam van ‘n ander party geregistreer is en die bou van die wonings het nooit gerealiseer nie.
Verdere ondersoek na 'n ander skema het ook aan die lig gebring dat Pace as 'n gekwalifiseerde bouer opgetree het wat ooreenkomste met voornemende huiseienaars aangegaan het om huise op 'n ander eiendom te bou.
Dié slagoffers het na bewering meer as R1,6 miljoen in Pace se rekening betaal.
Ofskoon ‘n vorm van konstruksie op die terrein begin is, het Pace, na wat verneem word, kort daarna verdwyn sonder dat enige van die huise oorhandig is.
Altesame 19 sake is by die polisie aangemeld. Pace se borgvoorwaardes sluit in dat hy nie met enige van die beweerde slagoffers mag kontak maak nie en hy moes ook sy paspoort inhandig.
Hy sal weer op 5 September in die hof verskyn.
Vorige artikel: Mossel Bay man in Court for alleged property development fraud
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’