Update
MOSSELBAAI NUUS - Felicia Micheals (15) se moordenaar/s het honderde meter met haar liggaam deur digte bosse gestap en by 'n steil sandbank met los klippe afgegaan, voor haar liggaam in 'n vlak graf in 'n afgesonderde gebied buite Brandwag agtergelaat is.
Micheals, ook bekend as ''Blommie'', was volgens die polisie vermoedelik reeds dood toe haar moordenaar/s van haar liggaam ontslae geraak het.
Bloedspatsels is deur ondersoekbeamptes in die verdagte, wat bekend was aan haar, die 27-jarige Neavan Misland, se woning op Brandwag gevind.
Haar liggaam is Saterdag, 1 Februarie gevind.
Die oorsaak van haar dood is nog nie bekend gemaak nie en sy was laas op Sondag, 26 Januarie in die woongebied lewend gesien.
Volgens inwoners van Brandwag was Micheals in 'n verhouding met Misland.
Sy sou volgende week haar 16de verjaarsdag vier.
Felicia Micheals se ma, Elvira (middel), word by die Mosselbaailanddroshof vertroos. Foto: Gabriélla Siebritz
Gemeenskapslede van Branwag was by die hof en betoog namens Felicia Micheals. Foto: Gabriélla Siebritz
Die Brandwag-gemeenskap het die afgelope week na die Mosselbaai-landdroshof opgeruk, saam met haar ouers, Elvira Micheals en Jaco November.
Misland het gister sy borgaansoek laat vaar. Hy bly in aanhouding en verskyn weer op 24 Maart in die hof.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’