Update
BRANDWAG NUUS - Die 27-jarige Neavan Misland het vanoggend vlugtig in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord nadat die 15-jarige Felicia Micheals se liggaam Saterdag in 'n vlak graf op Brandwag gevind is.
Micheals, ook bekend as Blommie, is laas op 26 Januarie in die woongebied lewend gesien.
Gemeenskapslede het saam met die polisie na haar gesoek en Saterdag om ongeveer 19:00 die grusame ontdekking 'n paar honderd meter van die sportveld gemaak.
Die gebied waar haar liggaam gevind is, is moeilik om te voet te bereik.
Woedende gemeenskapslede het vanoggend voor die hof saamgedrom en geëis dat geen borgtog aan Misland toegestaan mag word nie.
Gemeenskapslede voor die hof. Foto: Gabriella Siebritz
Felicia se hartgebroke ma, Elvira Micheals en haar pa, Jaco November was ook by die hof.
Misland en Micheals het mekaar geken.
Bloedspatsels is ná bewering in sy woonhuis gevind voordat haar liggaam ontdek is.
Elvira het aan die Mossel Bay Advertiser gesê Misland het boonop gehelp om na haar kind te soek.
"Hy het saam met ons na haar gesoek nadat ons haar as vermis aangemeld het."
Die oorsaak van haar dood is nog nie bevestig nie en sal bekend gemaak word na afloop van 'n nadoodse ondersoek.
Jaco November en Elvira Micheals, ouers van die oorledene. Foto: Gabriella Siebritz
Da Gamaskop polisie ondersoek 'n saak van moord.
Misland bly in aanhouding en sal weer op 6 Februarie in die hof verskyn vir 'n formele borgaansoek.
Vorige artikel:
Vermiste meisie (15) se liggaam gevind
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’