MOSSELBAAI NUUS - Lede van Tuine en Tossels het ‘n heerlike kuiertjie met allerhande binneversieringswenke by Angie Gomes in Danabaai geniet.
Riëtte Delport het pragtige skilderye en fyn kunswerkies van engele vertoon. Sy glo onvoorwaardelik aan engele en beeld hulle op allerlei maniere uit. Sy maak ook kaartjies, almanakke, armbande, borspelde en allerhande versierde sakkies en baie meer.
Sy open binnekort 'n ateljee op die hoek van Field- en Blandstraat. Sy werk onder die naam Rut.
Angie self het gewys wat sy alles in haar huis verf. Alles wat sy voor moeg word kry 'n nuwe laag verf, onder meer blompotte en lampskerms en sy gebruik graag die nuwe Chalk Paint.
Anita Knottenbelt het verskillende tegnieke vir die vou van servette gedemonstreer. Sy verf ook maklik borde met sekere spuitverf.
Daar was boonop ’n uitstalling van handsakke wat van denim gemaak is.
Die lootjie, ’n groot kruis met ‘n pragtige engel op geverf deur Riëtte, is gewen deur Johanna Wentzel.
Leonie het Riëtte Delport bedank met ‘n pragtig vetplanttuintjie in 'n houer van droë palmtakke.
Na heerlike wortelkoek en tee het die geïnspireerde klomp vroue weer vertrek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'