MOSSELBAAI NUUS - Onwettige kragaansluitings bly in kopseer in Mosselbaai.
Die Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs weer heelparty onwettige kragaansluitings in KwaNonqaba en Asla Park verwyder.
In die jongste optrede is 216 onwettige aansluitings verwyder. Die munisipaliteit hou vol met optredes om onwettige kragverbindings te verwyder, maar is afhanklik van die beskikbaarheid van ondersteuning deur die polisie se openbare orde-eenheid.
Dit word genoodsaak ter wille van die veiligheid van munisipale personeel wat dikwels met klippe gegooi en dreigement toegesnou word wanneer sodanige optrede plaasvind.
In die mees onlangse optrede is in sommige gevalle tot soveel as 25 koppelings per kragpaal in areas soos Dube-, Mzola-, Dywili- en Nkosana Mbangistraat verwyder.
"Onwettige kragkoppelings veroorsaak lewensgevaarlike omstandighede omdat daar in meeste gevalle nie van behoorlike isolasie gebruik gemaak word nie. Soms word kragkabels grondlangs na strukture gelei en die gevaar bestaan dat voetgangers niksvermoedend daarop kan trap en geskok kan word," verduidelik munisipale woordvoerder, Nickey le Roux.
Die onwettige aansluitings is ook dikwels die oorsaak van kragonderbrekings wanneer daar meer krag verbruik word as waarvoor die kragnetwerk ontwerp is.
Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n dringende beroep op inwoners om nie onwettige kragaansluitings te maak nie, en om onwettige kragverbruik aan te meld (044 606 5000).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'