MOSSELBAAI NUUS - Dit is nie ongewoon dat vakansiegangers gedurende hulle besoeke aan Mosselbaai en omstreke se strande, hulle kosbare juweliersware verloor nie.
Mariaan Burden van Kurgersdorp, Gauteng en haar man het vanaf 22 Desember 2021 tot 4 Januarie vanjaar in Groot-Brakrivier gekamp toe sy haar trouring verloor.
"Op 31 Desember was ek en my man op Klein-Brakrivier se strand. Ons wou in die see gaan swem. Ek het my trouring afgehaal en in my broeksak gesit, juis omdat ek te bang was dat ek dit in die see sou verloor."
Nadat die egpaar geswem het, het hulle onder die grasdaksambrele gaan uitspan. Eers later toe hulle oppak om huis toe te gaan, ontdek Mariaan dat haar trouring soek is.
"Ons het in die sand begin soek sonder sukses. 'n Dame met die naam van Cathy, wat naby ons op die strand gelê het, het gesê dat haar bure 'n metaalverklikker het en ons het hulle geskakel."
Binne 'n japtrap was Remo Liut en sy verloofde, Yvonne Bosman daar met twee metaalverklikkers om te help soek.
"Binne 'n paar minute is my ring gevind. Hierdie twee mense is weer eens 'n bewys van omgee en bereidwilligheid om hulp aan selfs vreemdes te betoon. As die wêreld maar meer van hulle soort kan hê."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'