MOSSELBAAI NUUS - Die Eden-distriksmunisipaliteit is reeds vyf jaar agtereenvolgens die groenste munisipaliteit in die Wes-Kaap en bedryf tans drie lugkwaliteitstasies in die distrik, onder meer in Mosselbaai, Oudtshoorn en George.
Onlangs het lesers van die Danabaai en Reebok/Tergniet-omgewing oor gure geure gekla, en hierdie klagtes is aan die Eden- distriksmunisipaliteit (EDM) voorgehou vir antwoorde.
'n Moniteringstasie op Mosselbaai is by die kantore van die EDN in Uitbreiding 23 opgerig.
Volgens die bestuurder: distrik luggehaltebeheer, dr Johann Schoeman, is die resultate van hierdie moniteringstasie ver onder die gestelde limiete en geen aanleiding tot kommer nie.
Hy nooi lesers om klagtes oor lugkwaliteit aan te meld (044 693 0006; per e-pos jschoeman@edendm.gov.za ) of die EDM kantore by hoek van Marlin- en Sampsonstraat, Mosselbaai te besoek).
Is EDM bewus van die klagtes oor onaangename reuke?
Al die klagtes word so spoedig moontlik opgevolg, afhangende van die lugkwaliteit-eenheid se werklading.
Die eenheid moniteer lugkwaliteit oor 'n streek wat strek vanaf Plettenbergbaai tot Heidelberg, asook die Klein Karoo.
Alles moontlik word gedoen om klagtes onmiddellik op te volg. Soms ontvang EDM 'n klagte vanaf die Mosselbaai-omgewing terwyl amptenare in die Plettenbergbaai munisipale area werk, dit is gevolglik moeilik om dadelik die beweerde probleem aan te spreek.
Danabaai
Eden-distriksmunisipaliteit het op 1 Februarie 'n klagte ontvang vanaf Mossdustria oor 'n onaangename reuk wat onstaan het en 'n soortgelyke klagte is ook op 2 Februarie vanaf die Danabaai gemeenskap ontvang. Vroeër in 2017 was daar ook klagtes ontvang oor onaangename reuke in die Danabaai-area.
EDM het ook op 30 Januarie 'n soortgelyke klagte vanaf Aalwyndal (Mosselbaai) ontvang.
'n Maatskappy in Mossdustria, Southern Cape Fishmeal (SCFM) het op 1 Februarie die instandhouding van hulle afvoerdreine gedoen, wat moontlik kon gelei het tot Mossdustria se klagte.
Volgens SCFM is al die instandhoudingsprosesse uitgevoer volgens reëls en regulasies op Donderdagaand en teen Vrydagoggend was geen negatiewe toestande ondervind nie.
Daar is spesifieke kontrole maatreëls wat gemoniteer moet word deur SCFM tydens produksieprosesse.
Die EDM wag op inligting voordat 'n besluit geneem kan word oor die effektiwiteit van reukverminderingstoestelle op die perseel.
Geen ingeligte besluit oor die oorsaak van onaangename reuke in Danabaai is op hierdie stadium beskikbaar nie omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.
Reebok/Tergniet
In Oktober 2017 is 'n soortgelyke klagte ontvang vanaf gemeenskappe in die Reebok- en Tergniet-omgewings.
Twee aktiwiteite in die Reebok- en Tergniet-areas het binne die wetlike standaarde plaasgevind.
Wanneer is steurnisbedrywe se filters vir voldoening nagegaan?
Die EDM moniteer 31 gelyste aktiwiteite binne die Eden-streek en doen maandelikse of kwartaallikse inspeksies en formuleer daarna verslae oor bevindinge.
Meeste nywerhede moet hulle emissies op 'n jaarlikse basis laat toets deur onafhanklike konsultante – 'n verslag word deur konsultante by die EDM ingedien.
Die verslae word deur die EDM vergelyk met emissie standaarde ingevolge die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Luggehalte (Wet 39 van 2004) (NEM:AQA ) soos gewysig.
Organisasies moet voldoen aan die standaarde wat uiteengesit is in die bogenoemde regulasies.
Indien die regulasies nie nagekom word nie, word 'n nywerheid gewaarsku en die kans gegun om stappe te volg om die verlangde emissie-standaarde te bereik.
Die EDM het onlangs 'n emissie-verslag ontvang wat bevestig dat PetroSA aan al die wettige regulasies voldoen.
Eden verleen ook hulp aan munisipaliteite in die streek om te verseker dat ongeveer 50 potensiële lugbesoedelingsindustrieë gemoniteer kan word. Die EDM word slegs deur een lugkwaliteitsbeheeramptenaar bedien.
'n Addisionele posisie wat tans geadverteer is in streekskoerante, gaan binnekort gevul word.
Kommentaar
Die EDM waardeer die publiek se aanmelding van kwessies wat te doen het met lugkwaliteit in die streek.
Afhangende van die tipe klagte, sal EDM daarvolgens reageer as die klagte betrekking het op die munisipaliteit se jurisdiksie.
Dit is belangrik vir ons om 'n omgewing te handhaaf wat die publiek se gesondheid en welvaart verseker, insluitend die voorkoming van siektes as gevolg van swak lugkwaliteit.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'