Update
ALBERTINIA NUUS - Die 53-jarige verdagte wat in September verlede jaar in hegtenis geneem is nadat die liggame van die negejarige Jacorene Vaaltyn en die tienjarige Sharon Arries by 'n woning in Albertinia ontdek is, se voorverhoor het die afgelope week in die hooggeregshof in Kaapstad begin.
Die verdagte, wat tydens 'n soektog as Timothy Ova geïdentifiseer is, sal hopelik tydens die verhoor meer lig kan werp oor wat tussen 17 en 18 September, 2022 met Vaaltyn en Arries gebeur het.
Die twee maatjies se liggame is verlede jaar op Donderdagaand, 18 September, by Ova se woning in Jan Fiskaalstraat op Albertinia ontdek.
Die grusame ontdekking is om ongeveer 18:30 gemaak enkele ure nadat die twee meisies as vermis aangemeld is.
Een van die slagoffers se liggame is onder 'n bed gevind en die ander liggaam in 'n blou plastiekdrom.
Beide liggame was met lakens toegedraai.
Die motief vir die moord is steeds nie bekend nie en 'n nadoodse ondersoek het aangedui dat die slagoffers nie verkrag of seksueel aangerand is nie. Die meisies is weens versmoring dood.
Ova kon nie aan die polisie verduidelik hoekom die liggame op sy perseel was nie en hou sedertdien vol dat hy onskuldig is.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Alistair Rezant van die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele aanranding.
Jacorene Vaaltyn (9) en Sharon Arries (10) is wreed vermoor. Beide meisies is weens versmoring dood en daar was sand in hulle lugwee.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’