Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Volkskerk van Afrika in Mosselbaai wat op 20 September 1942 gestig is, het oor die naweek van 24-25 September, hulle 80ste bestaansjaar gevier.
Die tema vir die geleentheid was "80 Jaar van Genade".
FOTOGALERY: Volkskerk vier "80 Jaar van Genade"
Die feesprogram het alreeds vroeër afgeskop met voorafgaande projekte soos 'n vrouetee, 'n Pat and Johnny-vermaaklikheidsprogram, ‘n karwasprojek deur die jeug en ‘n karaoke waaraan die gemeente entoesiasties deelgeneem het.
Op Erfenisdag, Saterdagoggend 24 September, het talle gemeentelede in Georgeweg bymekaar gekom op die terrein waar die gemeente hulle eerste kerk gekoop het na die stigting van die gemeente op 20 September 1942.
FOTOGALERY: Volkskerk se 80ste bestaansjaar gevier
Eredienste is vir die eerste aantal jare in die “Memorial Saal” gehou. Die gemeente het later 'n klipgebou gekoop by Suster Marjorie Hermanus wat 'n winkel daarin bedryf het. Die klipgebou is toe herbou om as 'n kerk te dien. Die kerkgebou is op 23 Junie 1948 in die naam van die kerk oorgedra en die gemeente het vir 11 jaar hulle aanbidding daar gedoen.
Apartheid het ons egter hard geslaan en ons gemeente het ook nie die valbyl van die apartheidswette met die groepsgebiedewette vrygespring nie. Baie van die gemeentelede moes ook hul huise en eiendomme spotgoedkoop verkoop en na die 'kleurlingwoonbuurt' verhuis.
Struikelblok
Ook die kerkgebou in Georgeweg wat deur die gemeente gebruik is, het ‘n struikelblok geword. Dit was kwansuis ‘n versperring omdat die hoofpad breër gemaak moes word. Die munisipaliteit het die gemeente opdrag gegee om die plek te ontruim. Die kerkraad het volstrek geweier om te ontruim en het aangebly. Tydens ‘n gesamentlike sitting van die Finansiële, Stadsbeplanning en Werkskomitees wat op 13 Augustus 1959 gehou is, is daar besluit dat die Volkskerk se perseel onteien word en dat die kerk kennis gegee word om die perseel op 30 November 1959 te ontruim.
Ds Louis Jansen, Corrie Thysen en ds Leon Smith.
Laaste diens
Die laaste diens in die klipkerk was dan ook die 1959 Oujaarsnagdiens.
Vanaf Georgeweg het die prosessie beweeg na die plek waar ons volgende aanbiddingsplek sou wees. Na vele onsuksesvolle aansoeke om hulp van die munisipaliteit om grond vir ‘n aanbiddingsplek te kry, het die kerk ‘n saal in Tarka gehuur. Die gebou is deur ons voorvaders beskou as 'ontoegewyd en onwenslik' vir godsdiensoefening omdat dit ook as ‘n bioskoopsaal vir die Tarkagemeenskap gebruik is. Nadat die saal afgebrand het, moes die gemeente weer soek na ‘n ander aanbiddingsplek. Hiervandaan het die gemeente verhuis na ons huidige kerkperseel waar eers ‘n saal in 1971 en later ons huidige kerkgebou in 1992 voltooi en in gebruik geneem is. Die gemeente was dan ook bevoorreg om Dr Beyers Naudé as gasprediker by die kerk se inwydingsplegtigheid in 1992 te hê.
Ds Leon Smith en sy vrou Neva.
Kranse
Met die viering van die Kerk se 80ste bestaansjaar was dit behoorlik 'n miernes van bedrywighede. Kranse is gelê by beide bogenoemde plekke waar ons voorheen aanbid het voordat die persele verlaat is. Vanaf die Tarkasaal is die trompoppies van die gemeente begelei deur die plaaslike verkeerspolisie en die brigade van die All Saints kerk deur van die strate van die buurt tot by die kerk . Die trompoppies het werklik die aandag van die gemeenskap geniet en is met groot belangstelling gevolg tot by die kerk waar hulle deur hulle passies gegaan het. Dit was hoogskop van ‘n hoë gehalte.
Die gevolg is by die kerk ingewag deur gemeentelede wat die vure hoog laat brand het.
Volkskerk-raad ondervoorsitter Julick Meyer.
Lekkernye
‘n Basaar wat deel was van die hoogtepunte van die naweek het onmiddellik in aanvang geneem. Potjiekos, hoenderbraai, vis en skyfies en roosterbrood met verskeie lekkernye daarop was aan die orde van die dag en is aan die buitekant van die saal verkoop. Binne die saal is al die koeke, klein en groot, terte, poeding, lekkergoed, groente en rou vleis verkoop. Die gemeente en die hele gemeenskap het die basaar soos van ouds behoorlik geniet en daar was lekker gemakietie met bypassende musiek.
Die Erediens Sondag, 25 September, was die hoogtepunt van die feesvieringe. Die moderator van die Volkskerk van Afrika Genootskap, Ds Louis Jansen van Gqeberha, het die diens waargeneem met die vise-moderator Ds Leon Smith van Belgravia in Kaapstad wat as liturg opgetree het.
Verder is ons ook vergas deur die teenwoordigheid van die Scriba-Synodi, Ds Ebramilde Booysen, Ds Garrett Möller wat vir 22 jaar ‘n leraar van die gemeente was, sowel as Me Sylvia Crotz, vrou van die ontslape Ds Leslie Hugh Crotz wat ook voorheen ‘n voltydse leraar van die gemeente was.
Gaste van oral het die diens bygewoon sowel as oudlidmate van die kerk wie se wortels diep in die kerk geplant is.
‘n Kranslegging deur drie van die oudste lidmate in die kerk het tydens die erediens plaasgevind waarby die gemeente heerlik die gesang, Fading Away, gesing het.
Die moderator het tydens sy boodskap aan die gemeente gekonsentreer op die pastoraal gelewer deur wyle Ds Leslie Hugh Crotz, voormalige moderator tydens die 47ste sinodesitting waarin hy – ‘n historiese oorsig van die Volkskerk van Afrika vanaf 1922 tot 1984 gegee het.
Uitdagings
Dit was met spesifieke verwysing na die uitdagings en pastorale benadering van die kerk, hoe mense na mekaar kyk en regverdiging vind vir die onmenslike manier waarop mense behandel word. Hy maak die volgende gevolgtrekking as hy kommentaar lewer op die verontmensliking gedurende apartheid.
Ds Crotz het geskryf: “Teen die agtergrond van kerk- en staatspogings om die politieke beleid van apartheid in die Suid-Afrikaanse gemeenskap te vestig, wil ek vir `n paar oomblikke stilstaan by diegene wat hierdie vernedering moes beleef. Hulle het nie die wêreld se kans gehad om op 'n betekenisvolle manier te toon dat hulle nie is wat die witmense van hulle dink nie."
1 Petrus se beginverse verwys ook dan hoe moeilik die lewensomstandighede was vir Joodse Christene.
Omstandighede wat ons ook self ervaar het en waarin 'n menigte mense hulle mee kan vereenselwig. Vernederende en diskrimenerende omstandighede wat gedryf was deur die manier oor wat mense van mekaar dink en hoe hulle na mekaar kyk.
Oorsprong
Op Erfenisdag het hierdie gemeente die spoor terug geneem na die oorsprong van waar hulle gekom het, na die klipkerk wie se lewensaar afgesny was deur mense en ons voorouers wat bloed gesweet het vir hul menswaardigheid en die reg om op te staan.
Net soos in 1 Petrus geskryf is, was daar groepe Christen-mense wat met die strik om die nek moes lewe om hulle aan te moedig om getrou te bly teenoor God, net soos wat Petrus `n appél gelewer het op die onderdruktes en slawe om moed te skep en hoopvol te bly leef en dat hulle ‘n God aanbid wat nie die werke van Sy hande nie laat vaar nie.
Netso kan ons oor die algemeen en in hierdie gemeente in besonder, getuig van hoe die verkeerde nie sal seëvier nie, hoe die kwaad nie sal oorwin nie, hoe die donkerste oomblikke waarin ons rondtas en soekend is na uitkomste weer bevestig dat sy getuienis oor Homself tog waar is.
Nasionale lied
Die diens is afgesluit met die sing van die kerk se nasionale lied, Onze Volkslied.
Na die diens is van die gemeentelede vergesel deur die aanwesige leraars na die kerkbegraafplaas waar daar ook ‘n krans gelê is ter nagedagtenis van ons voorgangers wat ons vooruitgegaan het.
Die dag is afgesluit met ‘n fees-ete by die Ridgeview Primêre Skoolsaal.
Ds Neil Smith, die plaaslike leraar, die kerkraad en die gemeentelede wil almal bedank vir hulle bydrae oor die afgelope 80 jaar en die grootste lof en eer kom God toe wat ons vir tagtig jaar elke dag gedra het. - Joey Daniels is die kerk se tesourier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'